Ek verlede week by die vliegtuig se venster sit en uitkyk. Dit was ‘n skoon en wolklose dag en mens kon duidelik bekende merkers in die landskap daar onder raaksien.
Ek het hierdie foto’s geneem van die benede-Oranjerivier se laaste sowat 100 km op sy kronkelpad na die see. Ek ken die wêreld daaronder nogal goed omdat ek dikwels by die myne in die omgewing besoek afgelê het. Daar is heelwat diamantoperasies al langs die Oranje en dan ook teen die kus, noord en suid van die riviermond. Diamante is deesdae hier nie meer so volop as in die verlede nie. Nietemin bly dit nog steeds by verre die grootse industrie in die dorre Richtersveld en ook die suide van Namibïe. (Die gebied het oor die jare reeds meer as 100 miljoen karaat diamante van hoogstaande gehalte gelewer.) Huidiglik staan produksie op sowat 1 miljoen karaat per jaar. Dis ongeveer 200 kilogram van die blink klippies wat vroue regoor die aarde so op hol jaag.
Die Oranjerivier het oor miljoene jare die diamante hierheen aangespoel van so ver weg as die berge in Lesotho. Ander diamante is weer deur die wind, in die sand van die Namibwoestyn, rivier toe en see toe aangewaai. Sterk seestrome het die diamante dan laat konsentreer in gruislae waar die strandlyn lank gelede geloop het. As jy mooi kyk, sal jy in die onderste foto sien hoe die die myners keerwalle in die see gebou het om die diamante onder die seesand uit te haal.
Daar is baie mooi weggesteekte en interessante plekke al langs die rivier. Van hulle het die mooiste name: Bloeddrift, Sendelingsdrift, Jakkalsberg en Nxodap is ‘n paar voorbeelde.
Dit raak vrek warm in die riviervallei. By Bloeddrift draai die kwik soms by 50 grade Celsius in die somer. Die rivier bring egter lafenis en ‘n bietjie groenigheid op sy banke, wat dit leefbaar maak vir mens en dier.
Wie weet: Eendag kom ek dalk weer terug om lekker vakansie te hou en foto’s te neem in die Richtersveld daar doer onder …
* * *

















Onlangse kommentaar