Tags
Die trekkers in die museum by Whiteman Park is almal netjies deur vrywilligers gerestoureer en in goeie werkende toestand. Op die tweede Sondag van elke maand word ‘n paar van die ou masjiene aangeskakel en dan op ‘n vertoonrit deur die park geneem, verby die swembad vol jillende kinders, agter die tennisbane om en dan weer terug skuur toe, naby aan die koeltebome verby waar daar vleis gebraai word.
Die versameling ou trekkers is indrukwekkend: Daar is ‘n paar Massey Fergusson Vaaljapies, ‘n klompie John Deeres en ook heelwat ander stokou trekkers van sewentig jaar en ouer.
Sommige van hulle was legendes op hul dag, soos byvoorbeeld die lomp en swaar ou Lance Bulldog: Hierdie trekker het ‘n beneukte en onvoorspelbare humeur gehad. As jy nie weet wat jy doen nie, dan begin die enjin sommer agteruit draai en jou trekker het skielik drie ratte agtertoe en net een na voor. As jy dan nie gou briek trap nie, klim die Lance sommer bo-oor jou ploeg.
Heel agter in die museum staan daar ‘n pragtige, yslike groot ou stoomtrekker. Ongelukkig is sy ketel se wande na meer as ‘n honderd jaar nou dun geroes en hy mag nie meer opgestook word nie.
Wanneer dit vertoondag is vroetel en vryf die manne al van vroeg af aan hulle geliefde masjiene. Teen een uur is die konvooi trekkers dan gereed vir hul optog. Elke bestuurder is sommer trots op sy masjien en die manne hou graag stil sodat mens ordentlik kan foto’s neem.
Jy hoor orals net die gemoedelike gedreun van die ou dieselenjins. Hier en daar spoeg ‘n trekker so nou en dan ‘n asmatiese blou rookwolk uit.
Die groot ou John Deere ry gewoonlik eerste. Daarna kom die Vaaljapie en nog baie ander trekkers van enige denkbare kleur en fatsoen.
Terug in die museum se skuur moet die manne versigtig mik om elke ou masjien weer netjies op sy plek te parkeer. Soms is daar ‘n paar hande nodig om die laaste belyning te doen.
Weldra staan alles weer stil en statig op sy plek. Jy hoor net nog die tik-tik van warm enjins wat afkoel.
Hier en daar kry jy ‘n trekkertjie wat nie heeltemal die dag se opgewondenheid kon hanteer nie en hulle staan beskaamd en bedremmeld oor plassies olie onder hulle mae.
Dis nou ‘n goeie tyd om met die trekkermanne ‘n geselsie aan te knoop. Elkeen vertel graag sy storie. Gewoonlik is dit ‘n verhaal van lank gelede, oor ‘n harde maar gelukkige bestaan erens op ’n plaas, toe die wereld nog soveel anders was as nou. Toe ‘n boer op sy getroue trekker moes staatmaak om vir kind en kraai kos op die tafel te kan sit.
Ek sien die omie met die bakbeen ou Allis-Chalmers het van ver af gekom spesiaal om aan die vertoning te kan deelneem. Na die groot parade laai hy sy trekkertjie weer versigtig op ‘n sleepwa en vat dan die langpad huistoe.
* * *









Op Settlers is daar nou ‘n landbou-museum met sulke ou trekkers… Darem maar mooi.
Dis goed om te weet al die ou goed eindig nie weer op ‘n skrootwerf of in ‘n smeltoond nie.
Soos altyd, mooi foto’s en uitstekend geskryf! Hierdie ou trekkers het darem vir jou karakter.
ag nee lievie wat is dit met jou en trekkers , ek het geen gevoel vir die goed nie regtig xx m aarr as jy like geniet dit dan maar hmm
wat doen trekkers nou weer huh iets met landbou te doen en nie toon lere nie hm ok
genade en genugtig wil jy ‘n trekker ry ek het in my lwe nog nooit ‘n trekker gery nie en ek wil ok nie, quelle disastar, trekker bestaan nie in my wereld nie net tabasco sauce en rys en vino
bai
x
Ek sukkel soms om jou onsamehangende kommentaar te verstaan. Ek sal dit maar van nou af uitvee.
Ek is mal hieroor, veral die vaaljapies waarmee ek ook grootgeword het! Ek oorweeg dit sterk om as ek nie binne die volgende jaar of so platteland toe kan trek nie, vir my ‘n trekker te koop om in my en ander mense se tuine te werk.
‘n Vaaljapie behoort lekker te werk vir wat jy ingedagte het: Hulle is betroubaar en fris genoeg vir tuinwerk, maar ook klein genoeg om by die meeste plekke in te kom.
Weereens heerlike leesgenot‼ Ek kan net dink hoe die manne se stemme daarbinne in die vertrek gegons het van pure opwinding oor al die interessante ou staatmakers.
Ai hoe verlang ek terug na die wonderlikste tye gedurende my kinderjare op die plaas. Trekkerspore se groewe en patrone op die nat aarde is en bly vir my so deel van en eie aan plaasvreugde soos boerbeskuit en varsgemaalde koffie. Dankie ek het dit vreeslik geniet, veral die M Ferguson. Die koplampe het my ook gefassineer en dit is nogal opvallend dat die patrone op die agterbande nie noemenswaardig verander het nie, of is ek verkeerd?
Klink of jy as kind ‘n regte plaasjapie was. Ja, die band lyk nog steeds soos in lank terug se tyd.
Ek het gesien heelwat van die trekkers het sulke ou, verslete hoefysters aan hulle voorkante vasgemaak. Perd en trekker het dalk nog destyds op dieselde plaas vir dieselfde boer gewerk.
BAIE mooi, Kyker, ek het hierdie nou BAIE geniet! Ek wou se [toe ek hier 'land'] dat ek ‘n vaaljapie op ‘n banner sien van jou blog! Ons eerste een op die plaas was ‘n Vaaljapie [wat ek self ook al bestuur het - resies gejaag [probeer het!!] in die lande met die een huisbediende – op die ander trekker! Ai, waar is daardie pret-dae! Nee wat, enige tyd kan jy trekkers en stropers blog, ek sal dit geniet! Wens ek was weer 14/15 toe ek op die plaas lusern gesny en gebaal het!