Die bo-lope van die Swanrivier kronkel deur Guildford en Bassendean, twee van Perth se ouer voorstede. Hier sien mens nog heelwat rooibaksteenhuisies tussen die groot bome. Die buurt het ’n gemoedelike, tipies Australiese atmosfeer: Grasperke kort meesal ’n sny en tuine staan vol struike wat kan doen met ’n bietjie snoeiwerk. Party huise het nog outydse stoepe om, waar honde in die koel hoeke tussen potplante en sitbanke lê en slaap.
In die laatmiddae wanneer die stad se gewoel bedaar kry die rivier lewe. Drawwers en fietsryers blits op die oewers by mekaar verby. Vissermanne slaan hulle kampstoeltjies gemaklik op teenaan die blink water. Mense glip met hulle kano’s en roeibote in die stroom en kies dan koers see se kant toe om die sonsondergang te geniet.
As jy dan met skemer hier op die brug staan en kyk hoe die son wegraak, dan vang die rustigheid van alles jou sommer gou. Die rivier lê glad en blink in die aand se stilte. Kort voor donker sirkel die laaste watervoëls verby na hul neste. Roeiers wat terugkeer huistoe swiesj-swiesj hulle spane deur die water en waai vriendelik wanneer hulle verbykom.
* * *




Kyker, hierdie is besondere foto’s! Baie mooi!
Dankie. Ek het dit met my nuwe lens geneem. Ek is baie teverede met my kopie. Moes dit lankal gedoen het.
Die rustige atmosfeer wat jy met woord en beeld skep, het die vermoë om vel en been te penetreer en kalmte van gees te genereer.
Ja. Sug. Water en riviere en sonsondergange doen dit altyd vir my.
Ek is so bly Kyker, jy deel daardie vreugde met jou lesers ook. Hierdie blog is voorwaar ‘n oase. Dankie daarvoor.