Tags

Elke dag, voor die son se vuur oor die berge glip,
lig hy met geplooide hande die duiwehok se knip
om sy hemelkinders weer ‘n wyle hul wens te gun.
Gretige fladdervlerke omvou die ligtheid van die wind
en styg na ruimtes bo om daar tesaam hul pas te vind.

Hy staan alleen met helder oë in skrefies teen die lig
en volg met vreugde die sirkels van sy silwer duiwe
deur ‘n goue wolkesee vol van nuwedaggeluide;
Hy daaronder, die spil waarom hul lewens draai.
Hul daarbo, gestuur om nuwe drome op te laai.

Later, as die oggenddou se blink vervaag op blaar en gras
meet hy hul daagse brood versigtig in skeppies mielies af.
Hul weet dis tyd om gewillig na hul rusplek terug te keer.
Hy tel hul een vir een, by naam, en sluit die hok dan weer.
Almal se drang na lig en vryheid is, vir eers, besweer.

Sukkelbene skuifel terug oor die leë huis se drumpel
en die sleutel knars dan van binne in die slot.
Weldra sing die ketel weer sy elke-môre-liedjie
en die ou man skink sekuur ‘n enkel koppie vol
van boeretroos uit ‘n ingeduikte koffiepot.

*      *      *