Tags

Ek was bevoorreg om my kinderdae iewers op die platteland in ’n weggesteekte hoekie van die ou Transvaalse Bosveld deur te bring.  Daar was baie wonderlike karakters in die plaaslike gemeenskap:  Meeste van hulle stoere Afrikanermense met harte van goud wat altyd hulp verleen het wanneer die nood druk, sonder om enigiets terug te verwag.  As die stoomtrein se vonke iewers die veld aan die brand gesteek het, dan was die buurt se boere sommer gou daar om te kom help vuurslaan.  Of as ’n bees gedokter moes word en daar was nie meer spuitgoed oor in die medisynekas nie, dan was ’n buurman se hulp net ’n foonoproep ver weg.

In hierdie gemoedelike, vriendelike gemeenskap is almal egter nie met ope arms verwelkom of sommer uit die staanspoor vertrou nie.  Reisigers en veral stedelinge is met ’n sekere mate van wantroue bejeën.  Dan was daar ook al die “Utlanders“.  Hehe.  As jy nie ’n stoere Afrikaner was met ’n familiegeskiedenis wat na die Groot Trek toe teruggevoer kon word nie, dan sou jy nie sommer deel kon raak van die plaaslike koöperasiebinnekring nie.  En as jy boonop ’n Ingelsman was, dan was jou kanse op aanvaarding nog minder.

Ek was in hierdie opsig in ons gemeenskap ‘n vreemdeling, en tog ook nie.  Met my Duitse afkoms het ek die Groot Trek toets gedop.  Maar ek was ten minste nie Engels nie.  En die Duitsers het immers hul Mausers aan die Boere verskaf tydens die oorlog.  Ek was dus meer vriend as vyand en ons is grootendeels toegelaat om deel te word van die kontrei se sosiale binnekring.

Die gemeenskap se klem op uitsluiting van vreemdelinge en aanvaarding van ware Afrikaners as vertrouelinge het tot gevolg gehad dat eertse kennismaking met mense gewoonlik dieselfde patroon gevolg het:  Nadat die gewone, goedgemanierde groetery verby was, het die volgende vraag dikwels gevolg:  “Waar kom jy vandaan?“  Die antwoord moes dan meer omvattend wees as om te verduidelik watter afdraai mens moes vat om by ons plaas uit te kom.  Nee, dit het als te doen gehad met mens se familiebande en jou voorsate se geskiedenis.

Die persoon wat die vraag gestel het, was gewoonlik ewe gretig om sommer hulle familiegeskiedenis dan ook op die tafel te gooi:  Van hulle ouers en niggies en nefies, van ander naasbestaandes in die kontrei, van ooms in die Vrystaat, kennisse op die Mielieraad en tot soms ook van voorsate wat met die ossewa Transvaal toe gekom het.  Familielede en kennisse met edel beroepe soos onderwysers, dominees, polisemanne en prokureurs se indrukwekkende prestasies is gewoonlik dan ook veral beklemtoon.

Ja-nee.  Eerste kennismaking was behoorlik soos twee honde wat mekaar versigtig en van alle kante af besnuif voor hulle vrede maak en saam wegdraf om te gaan werfhoenders jaag.

My eie bewuswording van my identiteit as kind was ook in ‘n groot mate gegrond op my familiebande.  Aan beide kante was my voorouers interessante mense.  Hulle was sekerlik pioniers en in baie opsigte verfrissend anders as baie van hulle tydgenote.  Maar dis dalk ’n storie om op ‘n ander dag te vertel.

Die ander gedeelte van my konsep van waar ek vandaan kom en waar ek hoort, het alles te doen gehad met die wonderlike plaas waar ek opgegroei het.  Dit was ’n pragtige plek, met oorgenoeg oop ruimtes en ook baie versteekte hoekies in die koppies en in die veld waar mens sommer kon gaan wegraak as jy wou.

Orals op die plaas was daar merkers wat gedui het op teenwoordigheid van mense van ander, lank vergane tye.  Daar was my oupa se huis aan die voet van ‘n granietkoppie, wat lank onbewoond gestaan het, maar steeds propvol was van meubels en huisraad en aandenkinge van ’n vorige geslag se bestaan:  Daar was kaste met laaie vol vergeelde familiefoto’s.  Daar was ou poskaarte en briewe, met boodskappe van blydskap en verdriet.  Daar was portrette van naamlose mense in die sitkamer.  Ouma se kombuiskas was propvol masjiene en kontrepsies waarmee sy enige vrug kon skil of verwerk om in te lê of om konfyt van te maak.  Die ou huis het geruik na geweer-olie en patrone.  Orals, in elke kamer en ook in die lang donker gang, het my oupa se jagtrofeë met hul blink glas-oë beskuldigend in die halfdonker na mens toe afgekyk.

Agter die ou huis was daar ’n beeskraal van granietklip.  Van daar af, verder in die bosse in, was daar netjiese lande omring met ‘n muur van sekuurgepakte ysterklip.  Ek het altyd gewonder wie so hard gewerk het om dit op te rig, en ook hoe lank gelede.

Agtertoe, in die ruie gras tussen die veldbome was daar een of twee grafte met onbekende name op die stene.  Daar moes op ’n stadium, lank gelede, ’n veldslag hier plaasgevind het:  As mens weet waar om te soek, kon jy verweerde patroondoppies tussen die klippe vind.  My broer het eendag ’n ou geroeste Martini Henry pistool in die rantjies opgetel.

Daar was ook tekens van mense op  die plaas wat veel verder terug gegaan het as die koms van die eerste Europeërs:  Hoog bo in die agterste berg was daar die uitgrawings in die klowe waar mense spekulariet uitgehaal het.  Dis ’n metaal-blink klip wat hulle tot poeier vergruis en dan as versiering gebruik het.    Soms het ons nog maalklippe in die veld ontdek:  Groot, plat sandstene met ’n lekker holte in die middel.  En soms ook die koeëlronde  klippe met ’n gat regdeur wat gebruik was om die maalwerk mee te doen.

Daar was tekens van dinge wat nog veel verder in tyd teruggegaan het:  Aan die sonkant van die kliprante, op die gelyktes aan die voet van die hange, kon jy duisende en duisende potskerwe van klei sommer net onder die oppervlak uitgrawe.  Sommige van hulle was versier met die mooiste patrone.  Ek het eendag ’n pragtige, seepgladde, ovaalvormige klippie naby die spruit opgetel.  Dit het lekker koel in my palm gepas. Dit moes ’n hangertjie gewees het:  ’n Fyn gaatjie was sekuur aan die een kant deurgeboor.

En, as jy weet waar om te kyk, kon jy in die koppies nog klipskuilings uitmaak van mense wat eens daar gebly het.  Hulle het hul blyplek met oorleg gekies:  Jy kon van daar af wyd oor die omgewing uitkyk.  Daar was ook altyd iewers ’n spruitjie met water sommer naby.  En as jy dan ‘n bietjie daar in die los sand delwe, kon jy soms ‘n paar klippylpunte optel.

Ja-nee.  Op die plaas het ek geweet waar ek vandaan kom:  Daar was ’n onsigbare band wat my vasgemaak het aan my bloedfamilie maar ook aan ander mense wat voorheen daar was en wie gesweet het om klipmure te bou en lande te ploeg.  En ek het my ook een gevoel met ander voor hulle, wat hier op die klein stukkie van Afrika net so in en van die veld geleef het, geheel verweef in ’n tydlose ekosisteem.

Die jare het gou aangestap en toe ek my oë weer uitvee, bevind ek my op universiteit, in die middel van die stad.  Dit was eers ’n vreemde plek maar ek het dit tog ook gou deel gemaak van my waar-kom-ek-vandaan belewenis.  Ek het onbewustelik, (miskien as gevolg van my plaas-herkoms)  ook hier in die nuwe omgewing begin merkers soek wat my sou vasbind aan ’n groter essensie van plek en tyd.  Ek het hulle orals gekry:  In die geskiedkundige geboue op Kerkplein en in die pragtige monumente orals in die stad.  In die Voortrekkermonument wat trots teen die rant gestaan het, al was daar nie bloedbande wat my daaraan kon vasmaak nie.

Die Pretoria-omgewing het ook ander, veel ouer merkers vir my gebied.  Daar was die Culinan-myn, net ’n klipgooi van die stad af, waar die wereld se grootste diamant jare gelede ontdek is.  Daar was die Sterkfonteingrotte waarin ek soms gaan afklouter het, met hulle fossiele van oermense en sabeltandtiere.  En dan was die Johannesburgse goudvelde met al sy myne en die geskiedenis wat daarmee saamgaan.  En later toe ek begin oplees het oor die Vredefort krater, kon ek verstaan dat die goudneerslae die gevolg was van die gootste meteoor-impakgebeurtenis wat tans aan die mensdom bekend is.

Al hierdie tasbare dinge van vandag en gister het my hegter gebind aan my geliefde Suid-Afrika.

Die ander aspek van my groeiende bewuswording van herkoms was my kontak met ander Suid-Afrikaners.  Elkeen wie mens naby aan jou in jou lewe toelaat, word immers ’n stukkie van die anker wat jou bind aan jou herkoms.

Ek het in die laaste jare baie rondgeswerf en woon en leef nou elders.  Maar al hierdie plekke buite my geboorteland kan maar net nie heeltemal deel word van my nie.  My bande is gemaak.  My merkers is reeds ingekap.

Deesdae, wanneer jy iemand vir die eerste keer ontmoet, vra hulle nie meer waar jy vandaan kom nie.  Die lewe het heeltemal te gejaagd geraak.  Kontak op ’n meer persoonlike vlak is stellig ook gewoonlik ongewens of ongemaklik.  Maar as iemand my ooit regtig weer vra:  “Waar kom jy nou eintlik vandaan?”, dan sal ek lank gesels om hulle ‘n ordentlike antwoord te gee.  Ek sal hulle vertel van die mooiste, wonderlikste land in Afrika, met sy spesiale mense en hul trotste herkoms.  Ek sal hulle vertel van die broos en ragfyn balans tussen mens en natuur wat tot onlangs nog, sonder masjiene en tegnologie, in Afrika volhoudbaar was.  En ek sal miskien ook praat oor die tekens van ’n veel ouer, onverstaanbaar groot verlede van die aarde self, wat ek om my kon sien in die omgewing waarin ek grootgeword het.

*      *      *