Tags
Die Donnelly-rivier is so ‘n paar ure se ry suid van Perth, naby die see en in die middel van uitgestrekte, nat en groen bloekomwoude. Groot dele van die bos is hier nog onaangeraak deur boerdery- of bosboubedrywighede. Die gebied aan weerskante van die rivier, tot teen die see, is onlangs as natuurreservaat geproklameer.
Die Donelly is ‘n uitsonderlike rivier: Tydens die droë seisoen vorm die golwe en wind ‘n yslike sandwal daar waar dit by die see uitmond. Wanneer die reëns weer kom en die rivier begin vloei, dam die water dan vir ongeveer 30 kilometer ver op om ‘n pragtige, glashelder en rustige dam te vorm wat deur die woude kronkel.
Elke paar maande raak die rivier te vol en spoel dan weer sy pad oop na die oseaan.
Die enigste manier om by die riviermonding uit te kom is per boot. Mens kan ‘n rit op ‘n spesiale boot bespreek. Dit het glasvensters na alle kante sodat mens die mooi uitsigte ten volle kan geniet. Die vriendelike gids vertel interesante stories oor die geskiedenis van die omgewing terwyl jy kan terugsit en ‘n glasie wyn en ‘n ligte ete geniet op die sowat uur lange vaart na die strand.
Die woude hier is ruig en die bome staan hoog en dig teen mekaar. Daar is orals moerasse en nie eers 4×4′s sou hier kon deurkom nie. In die ou dae het beesboere hul vee hier in die ruigtes losgelaat en dan, na ‘n paar maande, het hulle dan te perd weer die beeste bymekaargejaag en mark toe gevat.
Die water wat deur die bosse na die rivier deursypel is glashelder. Mens kry varswaterkrewe hier. Hulle word ongeveer 25 cm lank en smaak sommer vorentoe.
Daar is net ‘n handjievol mense wat langs die rivier woon. Hulle het hier ingetrek voordat die gebied as reservaat verklaar is. Hulle het nou lewenslange woonreg maar mag nie meer aan hulle huise aanbou of verander nie. Hulle het dudelik ‘n gelukkige en unieke bestaan in die bos en waai vriendelik vanaf hulle stoepies as die boot verbykom.
Mens beleef gou ‘n anderse rustigheid terwyl die boot amper geruisloos deur die water gly op sy pad na die see. Om elke draai lê daar dromerige weerkaatsings van bome en stukkies hemel in die stil koeltes.
Nader aan die see vaar mens naby aan ‘n klompie sandsreenkranse verby, met donker skeure en grotte. Hier hang daar honderde neste van swaeltjies in die beskutte hoekies.
En dan kom die reis tot sy einde: Daar is ‘n yslike sandwal waarteen die rivier se water opdam.
Die rivierbootjie gooi anker uit en dis dit tyd vir uitklim en bene rek op ‘n ongerepte, eensame strand.
Die sand is wit en skoon. Jy stap net ‘n kort entjie oor die duine, met die varsheid van die seebries in jou gesig . . .
Dan lê die strand wyd en oop voor jou. Deinserige branders bruis sonder ophou vanuit die diepsee na die land.
Dis dan lekker om sommer vêr so al teen die nat van die see met die strand op te stap, met die dag se mooi orals om jou, terwyl die sand saggies teen jou bene waai en die meeue ongestoord daarbo op die wind met mekaar gesels.
Tydens die bootrit terug vanaf die see, deur skemerwoude, is daar genoeg tyd om met dankbaarheid na te dink oor die mooi dinge van die lewe.
* * *









Jou foto’s is pragtig! Maak mens lus om saam te vaar.
Dankie. Dis ‘n plekkie wat ek graag weer sal besoek. Dan gaan ek die krewe ook uitprobeer.
Pragtig, pragtig, pragtig! Baie mooi foto’s en net so mooi beskryf!
Dankie Reinhardt. Ek sien jy woon in Brisbane. Van my gunstelingplekke in hierdie mooi land is sommer daar naby julle: Die Glasshouse Mountains, Tewantin en baie ander.