Tags
Wes-Australië is omtrent so groot soos Suid-Afrika. Maar ten spyte van die baie spasie woon daar skaars twee miljoen mense hier, meeste van hulle in Perth en dan ook in ‘n handjievol ander stede en dorpe.
Die noordwestelike deel van die staat staan bekend as die Pilbara. Dit beslaan ongeveer seshonderdduisend vierkante kilometer en het ‘n totale bevolking van slegs 45,000. Dis die land se belangrikste mynboustreek, met groot reserwes ystererts en ook nikkel, koper en goud.
Die landskap is geologies baie interessant: Van die aarde se oudste formasies kom hier voor en op sommige plekke, so sê die mense wat weet, het die rotse wat mens vandag sien, ongeveer 3.5 biljoen jaar gelede gevorm.
Die streek is oor die algemeen warm en droog. Tans is dit egter sikloonseisoen. Vanaf Oktober tot einde Januarie sak daar sommer baie reën in swaar buie oor die vlaktes uit. Riviere wat maande lank droog was, begin weer vloei en strome voed binnelandse mere wat vir ‘n paar weke lank vol water sal wees, totdat die warm son weer alles laat verdamp.
Die landskap met sy kenmerkende skakerings van rooi is tans besonders mooi om vanuit die lug te aanskou. Riviere, mere en waterpoele vorm unieke patrone wat soms heel onwerklik en buite-aards lyk.
Eers wanneer die vliegtuig afsak om te kom land verander die Marslandskap weer stelselmatig: Strepiesriviere word koel lope, omsoom van duisende bloekombome met spierwit stamme. Hul diepgroen lower staan duidelik uit teen die skakerings van oranje, rooi en pers van die vlaktes se grond en sand.
Binnekort, met die koms van herfs, sal die riviere ophou vloei en die vlaktes sal weer verdor en stowwerig wees. Maar daar is oorgenoeg nattigheid onder die oppervlak weggebêre om die oewerbome groen en gelukkig te hou, tot met die aanbreek van ‘n nuwe somerseisoen.
* * *







Sjoe, lekker foto’s vir ‘n Arries-onnie. Ek geniet dit net so om foto’s uit vliegtuie te neem. Ek wens baie keer ek het eerder geologie gaan studeer. Ek dink dis baie interessant.
Geologie fassineer my ook. Ek ken ‘n paar mense wat dit doen vir ‘n lewe en dis lekker om te luister wanneer hulle vertel hoe dinge op ons aarde inmekaarsteek.