Tags
Het jy ook ‘n spesiale boom gehad toe jy ‘n kind was? Een met baie koelte en met stewige takke en raaktrap-mikke waarin mens lekker hoog kon opklim?
Ek het sommer ‘n paar gunstelingbome gehad daar op ons plaas in die Waterberge: Daar was die groot maroelaboom in die verste land, met sy wye kroon en vrugte wat in die somer lekker soet was as hulle ryp word. Daar was ‘n pragtige olienthoutboom in die laagte onderkant die huis. Ek het soms in hom geklim en my altyd verwonder aan sy dik en knoetsige stam wat sekerlik ‘n paar honderd jaar oud moes gewees het. Dan was daar ook verder van die huis af, in die klowe tussen die koppies aan die skadukant van die hange, pragtige moepelbome, met blink donkergroen blare en sulke growwe stamme wat hulle statig en oud laat lyk het. Muskeljaatkatte was lief om daarbo in hulle lower weg te kruip.
Elkeen van hierdie bome was vir my spesiaal. Maar die heel beste ene was ‘n groot wurgvy wat nie ver van die huis af op ‘n miernesbult gestaan het. Hy het lekker hoog oor die omgewing uitgetroon. Sy blare was altyd groen, somer en winter. Die voëls was lief om sy vrugte te eet. Veral boskraaie. Daar was meerkatte en muishonde wat in die holtes van sy stam nes gemaak het. In een van die mikke, hoog bo die grond, het daar bedags ‘n uil gesit en slaap.
Ek het vir my ‘n boomhuis in die vyeboom se takke gebou. Dit was smiddae na skool my vesting, my speelplek en droomplek.
* * *

Alte seker het ek my eie spesiale plekkie gehad, tussen so kliprantjie en so groot vetplanttipe ding. Niemand anders het geweet daarvan nie, nie eers my ma nie. Dan het my ma vir ons so ranker in ‘n huisievorm laat groei! Baie spesiaal. Indiese Jasmyn, met die geel blommetjies. En dan het elke kind sy eie tak in die moerbeiboom gehad. Verlang ek nou terug!
Ons het ook twee groot moerbeibome gehad. As dit vrugtetyd was het ons kinders lekker in die takke rondgeklouter en ons dik ge-eet. Ma was dan altyd vies omdat ons klere vol pers kolle was van die moerbeisap.
Op die plaas het ons [byna teenaan die huis] ‘n groot lukwartboom gehad, een lekker dik stewige tak, lekker vir onderstebo swaai en ook ‘n meter se stap daarop, aan die ander kant van die boom was daar lekker dele van die stam wat lekker klimbaar was boontoe. Gepraat van Moepelbome! ek het al vergeet dat die goed bestaan! Hoe LUS maak jy my nou vir moepels! ek het dit as kind laas geeet! Ken jy stamvrugte? Kan lekker suur wees as hulle wil, maar ook ‘n ander lekkerte. [moenie eers suurpruime noem nie, my kieue trek saam! ek kan die goed nie eet nie!]
Hehe. Moepels is mos sulke mooi geel vruggies, met die mooiste pitte. En stamvrugte ken ek ook. My ma het van hulle konfyt gekook. Suurpruime is erg suur ja. So suur dat dit altyd ‘n waagstuk was om hulle te eet.
Ek het nie geweet mens kan konfyt van stamvrugte maak nie. – wel, mens kan seker konfyt van enige vrug maak
– maar nooit in my wildste drome gedink aan konfyt daarvan nie. Moepels was ook net lekker as hy soort van ‘vars’ was, sodra hy bietjie ‘droog’ begin raak het – het hy begin meelerig smaak, dan was hy nie lekker nie. Ons het ook net een Moepelboom op die plaas gehad en soort van ‘versteek’, maar ai hoe mis ek turskvye nou ook! Daarvan het ons oorvloed gehad, jy het darem nou baie ‘dinge’ in my kop ‘los’ gemaak. [lol]
Jy en Nikita het my nou heeltemal uitgeboul met julle “moepelbome”. Moes eers woordeboek gaan om uit te vind dat dit “milkwoods” is. lol
Ek praat al van kleintyd af van melkhoutbome en niemand het my nog reg gehelp nie!
Vir my beteken ‘melkhoutboom’ weer niks. Ons Platvoete van die Waterberge weet net van moepelbome. Daar is ook ander spesies van hierdie streek met mooi name: raasblare, jakkalsbessies, viooltjiebome, wildepere, koedoeklappers, lekkerbreuk.. Daar is sommer baie meer.
Ek stem saam met Kyker, ek kan nie van ‘melkhoutbome’ nie. Nog nooit die naam gehoor nie, @Kyker, ek het van Jakkalsbessies/Raasblare/Wildepere/Koedoeklappers gehoor – nie van die ander nie. Ek moet ook eerlik erken ek het vergeet wat ‘n Koedoeklapper is, maar weet ek het daarvan gehoor [jarre terug]
Seker maar dan ‘n Kaapse woord.