Tags
William Shenton was een van die baie Engelse wat vol moed en met net ‘n paar persoonlike besittings in die 1820′s hulle geboorteland verlaat het om hulle hier in Australië te vestig. Shenton was ‘n ingenieur en ‘n bedrywige man: Sommer kort na sy aankoms hier het hy sy eerste meule op die oewer van die Swanrivier opgerig. Dis vandag glad nie vêr van Perth se middestad af nie. Die meule was geheel van hout gemaak. Ongelukkig het die plaaslike inboorlinge nie van die besigheid gehou nie en dit binne ‘n paar maande tot op die grond afgebrand. Ou Shenton het egter nie tou opgegooi nie: Binne ‘n jaar het hy nog ‘n meule gebou, die keer met dik en stewige klipmure. Hierdie geboutjie staan vandag nog en is ‘n paar jaar gelede volledig gerestoureer.
Wanneer die wind reg gewaai het, kon ou Shenton so ‘n rapsie meer as ‘n halwe ton koring per dag maal. Die meule het toe genoeg kapasiteit gehad om al die koring wat in daardie dae in die jong kolonie geproduseer was, na meel te verwerk. Die enigste manier om koring vanaf die binneland na die hawe te bring, was per boot met op die Swanrivier. Die meule op die oewer was dus goed gelee.
Twee jaar nadat hy sy klipmeule klaar gebou het het, het Shenton in 1833 ‘n opstal net langsaan opgerig. Die uitleg was tipies van huise in Perth gedurende daardie tyd: Daar was twee slaapkamers, ‘n woonkamer en ‘n kombuis. Hierdie geboutjie is ook nou gerestoureer. Dis vandag die oudste oorblywende struktuur in Perth.
Die oorspronklike meule het aangesukkel en was tot 1859 in bedryf. Daarna was dit baie jare lank vervalle. Die gebou het het oor die jare as ‘n woning gedien en later is dit ‘n rukkie lank in ‘n kroeg omskep. Dit was ook ‘n paar jaar lank ’n hoenderhok.
Ongeveer 20 jaar gelede is daar ‘n nuwe brug oor die rivier beplan waar die ou meuletjie gestaan het en dit sou gesloop word. Gelukkig het die stad se inwoners saamgestaan om hierdie mooi stukkie geskiedenis te bewaar: Die brug en snelweg is wel gebou, maar met ‘n spesiale wye draai om Shenton se meule verby.
* * *



Ek geniet altyd jou brokkies geskiedenis oor Oz. Laat my nou dink aan die meule in Kaapstad. Nou momenteel die naam vergeet.