Tags

,

Jy verhuis reeds jare lank steeds saam met my:
Soms oor land en soms oor die wye oseaan.
Ek sorg dat jy altyd weer tuis ‘n staanplek kry
om my dan stylvol aan ons gisters vas te bind.
Jy is tydloos mooi waar jy by my voordeur staan
met  jou kersblakers van koper wat waardig blink
teen donker houtpanele met insetsels van rose.

Die dae kom en gaan en is soveel stiller nou:
Sonder goed vertroude hande wat soms jou klap oopvou
en jou aanspoor om die note van jou hart se lied
oor honger eggo-ruimtes uit te giet
en weer die wye leegheid op te vul,
met silwer klanke wat soos somerreën
strome voed na riviere wat gly
 en kronkel
deur ons groen valleie heen.

Sonder jou musiek heers daar ‘n koue stilte saans,
as die maan vensterrame natrek oor jou lyne
en dof op hout van blinkgepoetste vloer en leë stoele glim.
Sal jy soms, wanneer jy stom en stil saam dans
op die afgemete pas van die staanklok in die gang,
wat meedoënloos deur sy lang sekondes tik
en al ons treë deur gister na more noukeurig meet;
Sal jy dan, alleen, miskien ‘n oomblik lank
die hunkering na vingers wat jou klawers streel,
vergeet?

*       *       *