Jy verhuis reeds jare lank steeds saam met my:
Soms oor land en soms oor die wye oseaan.
Ek sorg dat jy altyd weer tuis ‘n staanplek kry
om my dan stylvol aan ons gisters vas te bind.
Jy is tydloos mooi waar jy by my voordeur staan
met jou kersblakers van koper wat waardig blink
teen donker houtpanele met insetsels van rose.
Die dae kom en gaan en is soveel stiller nou:
Sonder goed vertroude hande wat soms jou klap oopvou
en jou aanspoor om die note van jou hart se lied
oor honger eggo-ruimtes uit te giet
en weer die wye leegheid op te vul,
met silwer klanke wat soos somerreën
strome voed na riviere wat gly
en kronkel
deur ons groen valleie heen.
Sonder jou musiek heers daar ‘n koue stilte saans,
as die maan vensterrame natrek oor jou lyne
en dof op hout van blinkgepoetste vloer en leë stoele glim.
Sal jy soms, wanneer jy stom en stil saam dans
op die afgemete pas van die staanklok in die gang,
wat meedoënloos deur sy lang sekondes tik
en al ons treë deur gister na more noukeurig meet;
Sal jy dan, alleen, miskien ‘n oomblik lank
die hunkering na vingers wat jou klawers streel,
vergeet?
* * *


Kyker,
Watter soort klavier is dit? Dit lyk so baie na myne. Myne is ‘n Uebel und Lechleiter (as ek nou so vinnig dink, ek is nie seker van die spelling nie) en is meer as 100 jaar oud. Die kandelare is lang jare al weg, so ook die “traliewerk” aan die bokant en Mozart (of sou dit Beethoven wees) se borsbeeld. Blykbaar het oupagrootjie dit goedgedink om aan elke kind ‘n gedeelte te skenk en het diegene wat die los stukke gekry het daarvan ontslae geraak….
So mooi die hout en die ivoorklawers. Tydens die eerste trek vanaf Worcester na die Vrystaat (Memel) het die klavier agterop ‘n oop bakkie gery, is gestem en kon goed speel. Daarna was daar 4 kort trekke van Memel na Vrede en Newcastle. Toe trou sus en trek die klavier Bosveld toe. Vir die reis na die Springbokvlakte het ek gesorg dat hy mooi in komberse toegemaak en met matrasse beskerm is agterop die trok. Manlief het die bak met seil toegetrek.
Ja, solank daar kinders is wat die klawers tokkel, is daar vreugde en vrolikheid. Maar deesdae se kinders verkies die tromgeklank uit die radio.
Dankie vir die deel van jou klavier se storie.
Ja-nee: Dis werklik besonders om iemand wat goed kan klavier speel, se opvoering lewendig te kan bywoon.
Om jou vraag te antwoord: Myne se naam is: R. Weissbrod Eisenberg.
En om die digter se vraag te antwoord: Nee, nooit! Al speel sy nou haar love song in stilte, bly die hunkerende vingers, wat haar klawers so goed ken, steeds haar suiwerste noot.
Dankie Plekkie. Om een of ander rede dink ek nou aan die fliek ‘Pride & Prejudice’ met Keira Knightley. Daar was mos ‘n mooi toneel met klavierspel in die storie.
(Ek het die fliek & aktrise se name in my kommentaar hierbo eers verkeerd gehad en het dit gekorrigeer. Dis wel Keira Knightley aan wie ek gedink het. Die hele fliek is baie goed gedoen, met pragtige landskappe en besonderse atmosfeer deurgaans.)
Hehe. Albei is uitsonderlike films, laasgenoemde was egter nog altyd een van my persoonlike gunstelinge. Keira Knightley het ’n besonderse skoonheid. Die klankbaan van Thorn Birds deur Richard Clayderman is natuurlik ook onvergeetlik.
Gits ja. Thorn Birds se tema-musiek is besonders, net soos die fliek self.