Tags

,

Wanneer ek verby ‘n hek soos die een hierbo ry, dan dink ek altyd weer hoe die plaaslewe verskil van die stedelike gejaagdheid waaraan ek nou al so gewoond geraak het:  ’n Stadsbestaan waar alles wat mens benodig, binne twee blokke van jou huis af te kry is.  Waar dokters en hospitale ook net ‘n klipgooi weg is.  Waar mens leef tussen soveel ander mense, maar nie eers die name van al jou bure ken nie.
Ek onthou dan weer hoe anders my kinderdae op die plaas was.  Ons was soveel meer op onsself aangewese om dinge te laat werk in ons daaglikse bestaan.  Winkels was ver weg.  Besoeke aan die dorp was skaars en is sorgvuldig vooruit beplan.   Mens het dan seker gemaak dat jy alles terug saambring wat jy nodig het om weer te oorleef vir die volgende paar dae of weke.  Die bakkie het altyd swaargelaai teruggekom huistoe, met diesel en olie vir die trekker, ‘n sak meel vir die werkers, medisyne vir die vee en onderdele vir alles wat op die werf reggemaak moes word.
Ek onthou ook die besonderse vriendskapsbande met ons plaasbure.  Hoe ons mekaar deur dik en dun bygestaan het as iemand hulp nodig gehad het.  En hoe ons Sondae lekker lank oor en weer gekuier het.
Miskien vat die slingerpaaidjie hieronder mens na ‘n plaasgesin wat nog net so leef soos hoe ek my eie kleintyd op die platteland onthou.
*      *      *