Wanneer ek verby ‘n hek soos die een hierbo ry, dan dink ek altyd weer hoe die plaaslewe verskil van die stedelike gejaagdheid waaraan ek nou al so gewoond geraak het: ’n Stadsbestaan waar alles wat mens benodig, binne twee blokke van jou huis af te kry is. Waar dokters en hospitale ook net ‘n klipgooi weg is. Waar mens leef tussen soveel ander mense, maar nie eers die name van al jou bure ken nie.
Ek onthou dan weer hoe anders my kinderdae op die plaas was. Ons was soveel meer op onsself aangewese om dinge te laat werk in ons daaglikse bestaan. Winkels was ver weg. Besoeke aan die dorp was skaars en is sorgvuldig vooruit beplan. Mens het dan seker gemaak dat jy alles terug saambring wat jy nodig het om weer te oorleef vir die volgende paar dae of weke. Die bakkie het altyd swaargelaai teruggekom huistoe, met diesel en olie vir die trekker, ‘n sak meel vir die werkers, medisyne vir die vee en onderdele vir alles wat op die werf reggemaak moes word.
Ek onthou ook die besonderse vriendskapsbande met ons plaasbure. Hoe ons mekaar deur dik en dun bygestaan het as iemand hulp nodig gehad het. En hoe ons Sondae lekker lank oor en weer gekuier het.
Miskien vat die slingerpaaidjie hieronder mens na ‘n plaasgesin wat nog net so leef soos hoe ek my eie kleintyd op die platteland onthou.
* * *


Baie mooi Kyker, ek sit met Uys Krige se gedig van ‘plaashek’ op ‘n draft en het juis gesoek na ‘n mooi foto van ‘n plaashek, toe beland ek op ander sites en my aandag word afgelei! Dus, hier is hy! Ek het so gewens ek het ‘n mooi foto gehad van ons ou plaashek – nie een by die huis nie, maar verder op in die veld waar die beeste deur hul kamp na die groter weiveld gegaan het. Ons het ‘n groot oranje aalwyn by ons plaashek gehad [by die huis] en vuurpyle daarnaas en ons hek was soort van in die skadu van ‘n massiewe lukwartboom.
Uys Krige
Bloedrooi die alwyn langs
die slingerpad.
Dis of daar vonke uit
elk vuurpyl spat.
Maar niks, niks roer nie…net
‘n luggie wat
skrams aan die ritselende grassate vat.
Daarbo die blou, blou lug,
daaronder die rivier
wat deur die boorde kronkel met
‘n groen swier.
Niks stoor die yle swewende
Bergstilte hier.
Na al die jare maak ek weer
‘n plaashek oop.
Waar het my paaie
tog nie geloop
Om my hier by ‘n hek te bring
van al my waan gestroop,
maar met my denke helder
en in my hart die hoop?
Die hek staan in die skad’wee van
‘n kremetart.
Die stilte in my’s volkome met
Niks troebels, niks verward.
Ek lig die knop…Ek maak
‘n hek oop in my hart.
Gits, dis mooi woorde van Krige. Dankie dat jy dit hier kom bysit het.
Ek dink nou: Op die plaas het sommige van ons beeskampe draadhekke gehad sonder die gewone staalpypraam. Net ‘n paar paaltjies met draad verbind. Mens moes hulle met ‘n hefboom span om hulle mooi toe te kry. Ons het hulle bekslaners genoem: As jy nie oppas met die toemaakslag nie, het die spanstok losgekom en mens deur die gesig geklap. Hehe.
Kyker, ek weet presies van watter tipe hekkie jy praat. Ons het in van ons kampe ook van daardie tipe hekkies gehad. lol @ bekslaners
Ek dink ons wat op plase grootgeword het, was baie, baie bevoorreg en ons besef dit dalk nou eers “in hindsight”. Ek is vandag bevoorreg om weer ‘n holte vir my voete op ‘n plaas te kon vind, al moet ek steeds my brood in die gedruis gaan verdien. Ten minste kan ek na ure terughkeer na ‘n rustige hawe
Klink of jy ‘n goeie balans handhaaf tussen plaas & stad. Ek wonder: Miskien kan jy soggens voor werk sommer gou ‘n paar koeie melk ook? Hehe.
Ek kyk lekker by jou- baie nostalgie gaan saam met die fotos, en elkeen vertel sy eie storie. Baie dankie.
Plesier. Welkom hier.
Miskien kan jy eendag vir jou ‘n klein plasie daar in Australie koop.
Ek hou baie van die platteland in die heuwels naby Perth. Daar is heelwat plasies met vrugteboorde. Miskien, as my skip kom, koop ek vir my ‘n plekkie met ‘n uitsig iewers oor ‘n vallei en ‘n boord vol lemoenbome.
Wat ‘n pragtige foto!
Dankie Maankind. Die plaas met die hek is in ‘n streek met vrugbare vulkaniese grond. Alles groei dus welig daar en die omgewing is werklik mooi.
Jaaaaaa swaer….
Die stilte en vrede is tasbaar, en hoe dieper ek dit indrink hoe meer herleef ek die sagte fyngemaaldesand onder my kinderkaalvoete in beespaadjies wat na die klipkraal toe lei.
Ag ja.