
Ek hou vreeslik van Zambië: Dis ‘n land vol vriendelike mense, wye ruimtes en pragtige natuurskoon. Ek vlieg gewoonlik na Ndola of Kitwe en ry dan per motor na my eindbestemmings, meesal na een van die myne in die Koperbelt. (Dis ‘n streek in die noorde van die land, teenaan die grens van die Kongo, waar daar al vir amper ‘n honderd jaar lank gemyn word.)
Ek was onlangs gelukkig om ‘n meer afgeleë myn te gaan besoek, naby Solwezi, so ‘n klipgooi van die Kongolese grens af. Van Ndola af volg mens die teerpad deur Kitwe na Chingola. Daarna draai jy links af in die bosse in, op ‘n pad vol slaggate op sy draaie deur die digte bosse. Na ‘n paar uur se ry bevind jy jouself hier in die ongerepte Zambiese platteland.
Mens ry elke paar kilometer by ‘n klompie hutte tussen die bome verby. Mense lewe eenvoudig, na
aan die natuur en sonder baie van die moderne wêreld se luukses. Daar is nie elektrisiteit nie. Motors is skaars en fietse is die algemene middel van vervoer. (In Zambië is daar ‘n fabriek wat nog regte dikwielfietse maak, met swart rame en blink hefbome om die remme te laat werk, soos hierdie ene hier langsaan.)
Kasawa is die stapelvoedsel. Dis ‘n plant met ‘n wortel wat amper soos ‘n patat lyk, wat sonder veel moeite in oop kolle tussen die bome aangeplant word. Verder is daar ook hoenders en boerbokke wat tussen die hutte en in die veld rondloop. In hierdie omgewing is daar geen landerye met mielies of ander gewasse nie, ten spye daarvan dat die grond baie vrugbaar is en enigiets waarskynlik sommer maklik hier sal groei.
Houtskool is die hoofbron van inkomste. Bome word in die veld afgekap en die stompe opgesaag. Die stapel hout word dan met grond bedek en aan die brand gesteek. Die hout smeul vir dae lank en verbrand dan om goeie kwalitiet houtskool te vorm, wat in groot sakke verpak word en dan per fiets na die hoofpaaie gebring word om te verkoop.
Orals waar daar tekens van mense is, is voëls maar skaars. (Hulle word met nette gevang of met ketties gejag.) Na ‘n paar uur se ry op die Solwezipad is die landskap egter feitlik onbewoond. Hier sien mens weer duiwe, tarentale en ook ‘n bietjie wild.
Dis vir my fassinerend hoe mense in vandag se tyd nog so na aan die natuur kan leef: Alles wat hulle eet, verbou hulle self, of jag hulle binne loopafstand van hulle hutte af. Die grasdakhuisies word gemaak van materiaal wat vrylik in die bos beskikbaar is.
Daar is wel vooruitgang, selfs in die verste hoekies van die bos: Kinders draf elke dag kilometers ver skool toe. Mense verneem van wat in die wereld aangaan op hulle radio’s, wat hulle so teen die oor op hulle skouers saamdra.
In Ndola is daar ‘n museum waar mens ‘n beter kykie kan kry hoe die vorige generasie Zambiërs nog in die bos geleef het. Hier is ‘n paar foto’s wat ek daar van die uitallings geneem het.
Voor die koms van Europese handelaars het die mense klere gemaak van boombas. Dit was blykbaar ‘n tydrowende proses.
Daar is baie verskillende soorte tradisionele musiekinstrumente. Dromme, koperklokke en snaarinstrumente.
Hierdie ou museumfoto vertel baie dinge van die ou dae: Die plaaslike stamhoof, duidelik gerespekteer deur sy volgelinge, stal met trots sy kosbare besittings uit. Daar is tradisionele wapens, sy yslike sambreel en selfs ‘n blikbeker om uit koffie te drink.
My blyplek in Solwezi was in ‘n nuwe, goed ingerigte hotel. Dis onlangs daar gebou, net nadat daar ‘n groot nuwe kopermyn in die omgewing oopgemaak het. Die hotel is in die buitewyke van die dorpie geleë, tussen meer beskeie huisies en hier en daar nog ‘n tradisionele grasdakhut. Saans, na sononder, het die klanke van mense wat sing om hulle kookvure by my venster ingewaai, saam met die reuk van houtvuurtjies.
Ek hoop tog dat Zambië ‘n bietjie van sy tydlose, gemaklike Afrika-karakter sal behou en dat dit nie alles sal plek maak vir die hedendaagse nomale moderne wêreldbestaan nie. Ek hoop dat daar nog van sy pragtige natuurlike bome en plantegroei sal oorbly vir die toekoms en dat daar in die veld nog baie vergete slingerpaadjies sal wees, wat jou na plekke bring waar mens kan rus kry vir jou siel.
* * *





Jitte Kyker, ek geniet hierdie geselsies van jou verskriklik baie. Jy vertel dit ontsettend interessant en ek is skoon spyt is as ek die laaste sin en punt bereik.
Zambië het nog baie stories. Ek hoop ek kry ‘n kans om weer daar ‘n draai te maak.
Baie interessante inskrywing Kyker! Jy’t my nou nuuskierig gemaak oor kasawa en ek het bietjie verder gaan oplees daaroor. Ek sien dat dit sianied bevat, maar in die proses om dit na meel te verwerk, word dit gekook, dan gedroog en is dan veilig om te gebruik. Ek wonder nogal hoe dit smaak.
Vir ‘n oomblik kon ek my die klank voorstel van die mense wat om die vuur sing en die reuk van die vuur geruik, seker oor ek my seun se klere vanoggend moes was wat na rook geruik het.
Hy was die naweek op ‘n plaas digby die Botswana grens. Hierdie tyd van die jaar verlang ek altyd vreeslik na die Bosveld.
Die “first class shopping centre” het my nogal laat glimlag…
Thea: Kasawa is vir my rerig nie lekker om te eet nie. Hulle maak pap daarvan (lyk nes mieliepap) maar dit stink ‘n bietjie.
Jy laat my ook nou sommer terugverlang Bosveld toe. Gits, dis ver van hier af.
kan U asb vir my fotos en meer stuur oor die
mynmanne wat daar bly in zambia se afgesonderde
omgewing.Die pryse teen gauteng. Dankie
Ai, die Afrika van ons is net so enig. Dis die reuke en klanke van die nag, die vroegdag, die einde as ie son sak. Die stof en Afrika stemme…Die lentes as die Acacias blom… in the springtime I’ll serenade you, oh you wonderful beautiful world… hm, aai grasdakhutte is so allermoois.
tata
Ja-nee Sterrewind: Jy beskryf Afrika se atmosfeer nou sommer baie mooi. Dankie vir die inloer.