Tags
So ‘n entjie van ons plaashuis af, langs Ma se hoenderhokke en tussen die kweperbome en lang die rye druiwe, het daar ’n ou windpomp gestaan. So ’n lendelam vaal ene, met Stewards & Lloyds op sy stert geskrywe. Die mense wat destyds die huis gebou het, lank voor ons tyd, moes hom daar opgesit het. Daar waar sy pyp in die grond verdwyn om van êrens diep koel lafenis op te suig, het iemand destyds ’n datum in die nat sement geskryf: 1911.
Langs die windpomp was daar ’n watertenk op ’n geroeste ysterstellasie. Daar was altyd ’n nattigheidjie wat na onder uitgelek het. Hier, tussen die lang gras versteek, het het daar ’n paar welige kruisementbossies in die koel skaduwee gegroei. Ek onthou nou nog die verfrissende, vars geur as mens die groen blare so tussen jou vingers vryf.
Die werf was lankal nie meer op die windpomp aangewese om water te voorsien aan al wat leef nie. Daarvoor was daar ’n nuwer, sterker boorgat, toegerus met ’n fris dieselenjin. Maar ek het as kind soms die ou windpomp se briek gaan losmaak as die wind waai en dan gekyk hoe hy met ’n gekraak en gekerm help om die watertenk vol te kry. Daar was vir my iets gerusstellend aan sy tydsame en beskeie bydrae helder water.
Ek was nog ’n tjokkertjie toe ek die eerste maal tot heel bo by die ou windpomp se vrotterige houtplatform opgeklim het. Dit was ’n gevaarlike storie: Die perdebye was lief om om hulle neste in die hoekies van sy raamwerk te bou. Ek het hulle fyn dopgehou so met die verbyklim: As hulle hul vlerke so begin vibreer op die nes, het ek eers gewag tot hulle weer bedaar. Met ’n spul perdebye agter mens aan sou daar net een ontsnapkans wees: Vryval na onder. En dit was nie ’n goeie plan nie.
In elk geval: Die ou windpomp se platform het hoog oor alles uitgetroon. Van daar af kon mens verby die vrugtebome sien, anderkant die lande verby, tot ver in die wasige laagte waar die naburige dorp se drie kerktorings tussen die huise uitgesteek het. Na die ander kant toe het ons naaste buurman se sinkdak agter die ry bloekombome teen die grensdraad geglinster.
Die ou windpomp se briek het die gewoonte gehad om los te kom as die wind te erg gewaai het. Ek onthou hoe ek een somersnag wakker geword het met die geluid van van veraf donderweer in die donkerte. Dit was eers windstil, maar die storm het vinnig nader en nader aangerol gekom. Blitse het helder deur die swart nag geflits. Die weer het al harder gedreun. Vlae sterk wind het deur die groot ou bloekomboom langs die huis se blare gesuis en sy takke laat kraak en kreun.
Die wind het sterker en sterker gewaai. Toe hoor ek hoe die windpomp se briek loshaak en sy wiel al vinniger en vinniger in die rondte draai: Tjier-tjier, tjier-tjier.
Meteens was daar buite ’n helder flits, gevolg deur ’n oorverdowende slag. Weerlig het die windpomp raakgeslaan en een van die vlerke aan sy wiel beskadig . Die windpomp se paniekerige gepiep het plek gemaak vir ’n katastrofiese gekletter en geklap soos die gebuigde wiel teen die platform vasgeslaan het.
Reën en hael het gou daarna in vlae uitgesak, met ’n oorverdowende lawaai op die plaashuis se sinkdak.
Die storm het na ’n paar minute oorgewaai en die wind het gaan lê. Al wat mens nog buite kon hoor was die gedrup van reënwater in die geute en die gedruis van die oorvol spruit agter die landerye.
Ek het die volgende more vroeg opgestaan om na die windpomp te gaan kyk: Hy het haasbek en skeef in die eerste lig gestaan. Een van die wiel se vlerke het in die gras tussen die kweperbome gelê.
Ek het gedurende die volgende paar weke vergeefs probeer om die ou windpomp weer aan die gang te kry. Onderdele was nie meer bekombaar nie. Daarvoor was hy veels te oud. Ek het aan sy ou raam gesweis en getimmer, maar dit het nie uitgewerk nie.
Die ou winpomp het nooit weer gehelp om die watertenk vol te kry nie. Ek het eendag sy briek vir oulaas vagetrek en met draad vasgebind sodat hy nie weer sou weghol as daar ’n sterk wind opkom nie.
Die jare het intussen al verbygevlieg en die plaas is lankal nie meer deel van my lewe nie. Ek bly nou ver weg, ver anderkant die dorpie met sy kerktorings. Ver anderkant die blouste strepies van my geliefde Waterberge. Verder as wat ek ooit van daar bo van die windpomp af kon sien. Daar bly by my net nog herinneringe oor van ’n wonderlike kindertyd op die plaas waar ek grootgeword het.
Ek het nou die dag op Google Earth ingegaan en gaan loer na ons ou plaas uit die lug uit. Ek het die grondpad se afdraai van die teerstraat af gevolg en nader ingezoem, tussen die groen berge en landerye in, na waar die opstal en buitegeboue jare gelede gestaan het..
Die ou sinkdakhuis met sy wye stoep is nog steeds daar. Maar die vrugteboord, die rye druiiwe en die plaasdam daar naby, met die reuse ou bloekoms reg rondom, is alles weg.
Die windpomp is ook nie meer daar nie. Alles het plek gemaak vir nog meer landerye.
Ek dink soms almal van ons het so bietjie van ’n posduif in ons harte: Ons het ’n onderliggende behoefte om altyd terug te keer na die plekke waar ons vageanker is en waar ons geluk lê. En as alles daar nie meer is soos ons dit agtergelaat het nie, dan los dit mens met ’n gevoel van hartseer en heimweë oor dit wat was.
* * *

Kyker jy skryf pragtig. Ek sit skoon verval in heimwee hier en staar vir my rekenaarskerm en wens daar is meer, nog so ‘n stukkie om te lees. Jy het nou sommer my hart heeltemal kom omkrap met onthou, maar dis ‘n lekker omkrap. Dankie.
Anna: Dankie. Ja-nee: ‘n Regte plaas moet ‘n windpomp he, verkieslik met ‘n sementdam daarby om in te kan swem.
Ek wens ek kan weer ‘n windpomp hoor
so droewig en stil die geklap klapklap
in die nag en dan ook in die dag
as ek eensaam alleen en oud
na die kraal en die krip toe stap
die diere ruik en voel om my
die beeste se warm lywe ervaar
die koeie se nat tonge voel
en die hooi en die veld
in my longe kan trek
die rustigheid sal my vrede gee
en saans sal ek lees
met die venster wyd oop
die lig afskakel en rustig hoor
na die windpomp se droewigmooi
klapklapklap
Dankie vir jou mooi bydrae Hartskommels. Dit klink of jy erg terugverlang na die plaaslewe.
Ek was in 2007 op ons gewese familie-plaas waar ek groot geword het, die kerkhof is nog steeds ons s’n – vorige geslagte (plus my pa) is daar begrawe. Dit was hartseer om te sien die plaas lyk nie meer soos dit gelyk het nie, ‘n deel afgesny en verkoop. Die pragtige beelde van die groen landerye wat ek in my geheue vasgeprent het moes ek vervang met dit wat voor my was, vaal landerye, droog en nie veel wat daar aangaan nie. Soms is dit goed om terug te keer, ander kere wonder ek of dit regtig goed is. Ek sal altyd terugkeer, maak nie saak wat nie. Daardie grond is steeds “myne” en my voetspore/gedagtes le daar geplant. Ek stem saam, die windpomp moet daar wees.
Jy het ‘n talent om gevoelens baie goed te omskryf. Veral jou laaste paragraaf is treffend.
‘n Gevoel van hartseer en heimwee oor dit wat was – en jy wonder, moes jy teruggekom het? Maar as jy nie gekom het nie, hoe sou jy ooit geweet het – werklik geweet het?
Herinneringe word helderder in gedagtes, werklikheid vervaag en wanneer ons die herinnering met werklikheid wil versoen, is die ontwaking dikwels ontnugterend…. moet ons herinneringe nie maar net herinneringe hou nie?
So waar Kyker…
Ek beaam wat BiB sê; jy skryf asemsnakpragtig en uiters gevoelvol. Baie dankie dat jy jou gawe met ons deel en asseblief-doen so voort.
Ek het só lekker gelees aan jou vertelling oor die windpomp. My gedagtes het ook sommer weer op ver paadjies gaan dwaal. Jy’t regtig ‘n wonderlike skryftalent Kyker!
Nikita, BiB, Huisvrou, Mefri & Thea: Dankie. Ek vra om verskoning dat julle kommentaar so lank moes wag vir ‘goedkeuring.’ Ek het in die laaste weke nie tyd gehad om by blog uit te kom nie.