Tags
Ek het verlede week op ‘n oulike museum afgekom in Kalamunda, ’n klein dorpie in die heuwels net buite die stad. ’n Klompie ou geboue staan hier onder die skaduwee van ‘n paar groot bloekombome, waar die dorpie se stasie eers was. Daar is ‘n poskantoor, ‘n paar outydse huisies, ‘n skoolgebou, werkwinkels en ook ‘n uitstalling van perdekarretjies en stokou motors.
Die sinkhuisie hierbo is in 1895 gebou en is binne sorvuldig ingerig met meubels en huisraad wat uit die 1920′s dateer. Mens kry sommer gou ‘n baie goeie indruk van hoe die lewe 80 jaar gelede hier in Perth was as jy bietjie naderstap en rondsnuffel.
In daardie dae moes mense nog sonder lopende water en elektrisiteit klaarkom.
Die klein geboutjie aan die agterkant van die huis is die waskamer, waar die vrou van die huis sekerlik lang en moeisame ure deuregebing het om klere te was. Water is met emmers aangedra en dan in ‘n houtstofie verwarm. Die wasmasjien het met ‘n draaihandvatsel gewerk. Daar was ook ‘n kontrepsie waarmee jy die wasgoed drooggemaak het. Dit moes ook met ‘n slinger aangedryf word.
Die waskamer is gerieflik naby aan die kombuis, ook agter aan die huisie, onder ‘n lae sinkdak. Daar kon die huisvrou, sodra sy die wasgoed klaar gewas het, na hartelus kos kook vir die gesin op ’n houtstofie.
Binne was die huisie maar beknop. Die grootste kamer het gedien as leef- en sit-area. En dit was sommer die badkamer ook. (Nou nie dat mens eintlik gemaklik in die klein sinkbadjie sou kon inpas nie. Maar dit het seker gehelp om water te spaar.)
Die hoofslaapkamer het net genoeg plek vir ‘n lekker ou katel en ‘n kleinerige klerekas. Ek sien ook mense het daardie dae nie veel verbeelding gehad as dit by slaapklere kom nie.
Langs die sinkhuisie staan daar ‘n grofsmid se werkwinkel. Dis ook maar net ‘n beskeie blikgeboutjie met ‘n lae dak. Dit moes erg warm gewees het daar binne, so naby die gloeiende kole. Al die gereedskap is swaar en eenvoudig gemaak. Bore en slypmasjiene het alles sonder krag gewerk.
Die stoomlokomotief by die stasie se ketel is in die ou dae met hout gestook. Dis meesal op die bosbouers se spoorlyn in die naby geleë woude gebruik om stompe na die plaaslike saagmeule toe aan te ry. Maar daar was ook ‘n paar passasierswaens vir die verbinding na Perth en Fremantlehawe onder by die see.
As jy wou Kerswense oorstuur na Moeder England toe, moes jy seker maak dat jou brief al vroeg Oktober in die pos was: Die stoombootrit het ongeveer 40 dae geduur vanaf Australië, verby Ceylon, dan na Bombaai in Indië, verby Egipte deur die Suezkanaal tot in Engeland. En as jy gehoop het vir ‘n antwoord op jou briefie, dan moes jy natuurlik bereid wees om vir nog 40 dae lank geduldig te wag.
Kalamunda behou vandag nog baie van sy unieke outydse karakter: Die ou hotel staan nog, asook ‘n paar van die mooi winkelgeboue van lank gelede. Dis omring met digte natuurlike woude. Die dorpie lê hoog in die heuwels.
So hier en daar, tussen die bome deur, kan jy die see daar ver sien blink.
* * *
Hiermee wil ek sommer ook sê: Geseënde Kersfees. Rus lekker uit en geniet die vakansiedae saam met vriende en familie.









Pragtig Kyker! Laat mens nogal aan Pelgrimsrus dink..die sinkhuisie-museum-plekkie. Ek hoop jou Kersfees was Geseend en ‘n Voorspoedige Nuwe Jaar vir jou!
Geseende Kersfees daar ver is Australie. Die huisies wat jy wys het my nogal baie laat terugdink. Ek is nie so oud nie en ek het self my heel eerste jare as baba en kleuter in ‘n soortgelyke huisie deurgebring hier in SA. Die huisie was net van kleistene gebou en die kombuis was deel van die huis, maar die was- en werkskamers was ook apart en as kind is ek ook gereeld in so ‘n sinkbad voor die stoof geskrop. Was ons arm? Ja. Was ons ongelukkig? Nee. Dit was wonderlike jare wat ek vandag nog na toe terugverlang.
Dankie Nikita. Ek hoop jy hou uit daar in die vreeslike koue.
Dankie ook Anna, en welkom hier by WordPress. Die plaashuis waar ek grootgeword het, was ook van ongebakte kleistene gebou. En daar was nie krag nie: Ons het paraffienlampe gebruik soos die ene op die foto hierbo wat langs die horlosie staan.
Baie nice en ek hou van wat jy met die pics gedoen het!
Dankie Kaalvoetjies. Ek is nou spyt: Wou ook nog van die plek se ou karre afneem maar daar was nie tyd nie.
Ek het ook so grootgeword tot en met my sesde jaar, hehe ek onthou die buite toilet en veral die reuk van uitgedoofdekerse voor slapenstyd, dit het vir my soos narkose gewerk wat my eensklaps na droomland toe weggevoer het.
Daar was ook ‘n koelkamer buite gewees wat gebou was met ogiesdraad en steenkool – dit moes gereeld natgegooi word. Dit was wonderlike, wonderlike gelukkige en kommerlose kinderdae gewees.
Dis bietjie na die maal, maar ek hoop jy het ‘n lieflike geseënde Kersfees saam met jou geliefdes ervaar.
Dankie Mefri. My oupa in Suidwes het ook buite so ‘n koelkamer gehad waarvan die mure van steenkool-as in ogiesdraad gebou was. Die nattigheid van druppende water uit ‘n tenk by die boorgat het die kamer verbasend koel gehou, ten spyte van die somer se versengende hitte daar buite.