
In die heuwels hier naby die stad is daar baie versteekte valleitjies tussen die bome se groen waar die dorpsjapies gaan ontspan oor naweke.
Hierdie tyd van die jaar, vroeg in die lente, loop die bergstroompies nog sterk. Oral in die bosse hoor mens die geruis van lopende water, saam met die vrolike stemme van kinders wat in die poele rondplas.
Toe ek hierdie kiekie geneem het, het dit my laat terugdink aan my eie kinderdae op die plaas toe my broers en ek ook net so lekker in die rivier gespeel het. Ja-nee. Dit was gelukkige tye.
* * *
Klippe en hoë bome lok my magneties nader, veral as dit naby water geleë is – daar is niks wat kan vergelyk met die klank van lopendewater wat oor klippe murmel nie.
Dit is ‘n lieflike rustige foto. Dankie Kyker.
Ek stem, daar is seker niks wat mens so rustig stem soos die geluid van kabbelende water nie. Ek onthou ook hoe ons as kinders paddavissies gevang het in botteltjies en later weer vrygelaat het. Dit was inderdaad gelukkige tye…
Dit lyk voorwaar of daar feetjies in daai bos kan wees. Pragtig skoon en glad is die klippe al gespoel!
Mensig, wat ‘n mooi gesig! Dit lyk asof dit van die Laeveld geneem is waar ek vandaan kom, jy laat my sommer verlang!
Dankie aan almal wat hier kom kommentaar gee het. Soos julle kan sien het die groot blogluiheid my weer vir ‘n paar weke lank beetgehad, soos ‘n griep. Dalk gaan dit van nou af weer beter.