01
Nov
09

Somersaand

 

voetpad na die kruin SW

 

 

Soms vlieg my gedagtes terug oor die diepblou see

na die stilte van ‘n hoëveld-somersaand daar ver,

met wolke vol flitse van storms, laag op die horison.

Ek sien dan weer hoe die nag se eerste ster

in vrede in die ruimte hang, blink en ryp, saam 

met die silwer skyf van ’n sagte maan.

 

Dan raak my dae hier vaal en uitgewas

en die pad se spoor na voor vernou

tot ’n strepie in die gras, skaars nog wyd genoeg vir twee.

En in my woud se stiltes bly daar dan alleen net ek

en die raafswart flenterjas

van my eie skaduwee.

  

*   *   *

 


14 Responses to “Somersaand”


  1. 1 Mefri
    November 1, 2009 at 8:54 vm

    Kyker, ek kan met alle eerlikheid en opregtheid getuig dat ek telkens na my asem snak wanneer ek jou gedigte lees. (ongeag hoeveel maal ek dit oorlees) Jy skryf onbeskryflik mooi, maar dit gaan oor meer as net kreatiewe woordgebruik – vir my het dit daardie uitstaande naamlose kwaliteit wat my eensklaps opraap en in die kern van betowerende suiwer skoonheid vrylaat. Dankie dat jy jou unike gawe met ons deel.

  2. November 1, 2009 at 9:52 vm

    Vrek. Dis hartseer.

  3. November 1, 2009 at 11:02 vm

    Mooi woorde en ek dink ons almal wat in die vreemde sit voel soms so.

  4. November 1, 2009 at 12:43 nm

    Pragtig, dis asof jy my gedagtes in ‘n digvorm neerpen. Baie goed, Kyker!

  5. 5 kyker
    November 1, 2009 at 3:30 nm

    Mefri: Dankie vir jou mooi woorde.

    Vlam: O vrek. Jammer vir die tranetrekker. Hehe.

    Kaalvoete: Dankie. Ja-nee: Ek kan nie dink dat enigiemand wat van ons mooi land af kom, dit ooit uit hulle gestel sal kan kry nie. O ja: Jou nuwe avatar is regtig mooi.

    Nikita: Dankie. Ek sien jy het ook by my trein-storie geloer. Dis ‘n lekker uitstappie. Ek oorweeg om volgende keer dieselfde rit in die aand te onderneem: Hulle bedien dan ‘n vyfgang aandete aan boord.

  6. November 2, 2009 at 12:36 nm

    Dankie dat jy hierdie mooi woorde deel!

  7. November 3, 2009 at 9:51 vm

    “En in my woud se stiltes bly daar dan alleen net ek; en die raafswart flenterjas; van my eie skaduwee.”

    Jinne dis mooi!

  8. November 4, 2009 at 1:55 nm

    Kyker,
    Dankie vir hierdie kykie in jou siel….
    Die hoëveld het ons op 17 Okt met ‘n heerlike donderstorm verras terwyl ons die kinders na die stoomtrein-werf op Germiston geneem het. Nogal net daarna jou inskrywing oor stoomtreine gelees.

    Ons beleef – heel vreemd vir die vlakte – nogal heelwat haelstorms vanjaar. Maar die bosveld is lowergroen en pragtig!! Ek wens daar was tyd om berge toe te ry om te gaan watervalle soek. Ons het al vantevore hier in Palala ingery en die mooiste tonele het ons begroet… Ja, donderstorms, somerreën, felle sonskyn net na die bui, die reënboog en die bosveld wat knipoog.

    Ek glo dat jy soms kan verlang

  9. 9 kyker
    November 4, 2009 at 5:38 nm

    Hallo BiB en GvdS. Dankie julle.

    Huisvrou: Jy laat my nou erg terugverlang na die Bosveld. Dankie vir jou lekker geselsie.

  10. November 5, 2009 at 5:55 vm

    ‘n Baie mooi verlang gedig Kyker. En dan kan ek ook nie help om te wonder of hierdie verlang ook dalk op my wag nie…

  11. 11 Daizy
    November 17, 2009 at 12:46 nm

    Mmm….verlange!!! Sulke diep gewortelde woorde …wat tog altyd sin maak.

  12. 12 kyker
    November 22, 2009 at 6:56 vm

    Dankie Thea en Daizy. Thea: Het julle al iets gehoor? Ek het nou die dag juis weer iets raakgelees oor Ecuador. Dit sal darem ‘n wonderlike geleentheid wees as julle tog wel daar kan gaan bly.

  13. November 23, 2009 at 6:30 vm

    Kyker hopelik sal ons iewers in Januarie weet. Elke dag is ‘n stappie nader aan die groot dag wanneer die kontrak onderteken sal word. Intussen word daar baie hard gewerk aan die voorbereidings en beplanning.

  14. 14 kyker
    November 25, 2009 at 9:21 vm

    Ek hou duimvas vir julle Thea. Gits, dink net hoe lekker sal jy kan blog as julle daar woon.


Leave a Reply




Op soek na iets? Tik die woorde hier in:

© Kopiereg voorbehou op alle plasings.

Page copy protected against web site content infringement by Copyscape

Datums met inskrywings

November 2009
M T W T F S S
« Oct    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

Bladsye