Ek het teen laat middag in Chiu-Chiu aangekom, op die stowwerige pad deur die woestyn vanaf Calama. Dis ‘n klein plekkie, met nederige huisies wat skouer aan skouer ingeryg is aan weerskante van die grondpad wat as hoofstraat dien.
Ek het by ‘n winkeltjie gestop om iets te kry vir aandete: Lekker varsgebakte brood met botter op. Daar was nie eintlik veel anders op die rakke nie. Suigstokkies, sjokolade en sulke groot outydse suikerlekkers. Toe ek betaal, het die vrou agter die toonbank ‘n yslike ou sakrenaar uitgehaal en sorgvuldig die bedrae vir my handvol eetgoed opgetel en toe die regte hoeveelheid kleingeld met sorg uitgekeer. Haar driejarige dogtertjie was besig om agter tussen die rakke met haar poppe te speel. Sy het vriendelik vir my geglimlag, asof sy bly was om mense te sien.
Chiu-Chiu se kerkie is een van die oudstes in Chile. Dit is in 1536 opgerig. Die witgekalkte mure is amper twee meter dik en effe skeef na alle kante toe.
Die voorkant kyk uit op die dorpie se plein met sy rye peperbome en bankies in die skaduwees. Dit het my opgeval dat die meeste mense op straat bejaardes was.
Daar was ‘n begrafnisdiens aan die gang toe ek by die kerk aankom en al die deure was toe. Na ‘n rukkie het ‘n man uitgekom. Hy het toe in die een toring opgeklim en die klok saggies, afgemete begin lui: Dong, dong, dong … Familielede en kennisse het kort daarna, in stilte, die kis uit die gebou gevolg. Toe was die kerk skielik leeg en ek het ingestap om te gaan kyk.
Die sydeure is van kaktushout gemaak en die planke is sorgvuldig met rieme aanmekaar vasgeheg. Yslike ou houtskarniere pas netjies in die kerk se balke.
Die kerkie staan met sy rug teen die rivier. Elke bietjie kosbare water word hier sorgvuldig benut om groentebeddings en lusernlande mee nat te lei.
Ek het my vinnige besoek aan Chiu-Chiu geniet. Dis duidelik ‘n hegte gemeenskap. Mense se eenvoudige lewens is in balans met die dorre omgewing waarin hulle bestaan.
Niks hier gaan gou verander nie.
* * *




















RSS - Posts
Onlangse kommentaar