11
Oct
09

Die stoomtrein na Dwellingup

 1 twee lokos

Ek het nou maar een maal ‘n sagte plekkie vir stoomtreine.  Seker omdat ek op die plaas grootgeword het met die tjoef-tjoef van stoomlokomotiewe elke oggend vroeg, wanneer die trein verbygekom het na Vaalwater se kant toe.

8 drywerHier in die bosse in die Perth omgewing is daar nog ‘n paar spoorlyne waar mens kan gaan stoomtrein ry.  Maar net in die winter en vroeg somer.  (In die droë maande is die gevaar van veldbrande te hoog en die stoomtreine word dan gestop.)

Een van die meer bekende stoomritte is tussen Pinjarra en Dwellingup.  Beide dorpies is klein plattelandse gemeenskappe.  Dwellinup is verder op in die berge, weg van alles af.  In die ou dae was daar ‘n saagmeule en bosbou was basies die enigste bron van werk en inkomste vir die plaaslike gemeenskap.  Ongeveer veertig jaar gelede is meule en ook amper elke huis in Dwellingup egter tydens ‘n reuses bosbrand in puin gelê.  Die dorpie is later weer herbou, maar die saagmeule het gesluit gebly.  Vandag is toerisme hier die enigste bron van inkomste.

By Pinjarra kan mens ‘n indrukwekkende versameling van stoomtreine en ook ou diesellokomotiewe sien.  Meeste van hulle is ten volle gerestoureer en in goeie werkende toestand.

1b loko voor

Die stoomrit na Dwellingup duur ongeveer twee ure, deur ‘n pragtige heuwellandskap.  

4 oor die spruit

Die trein loop verby skaap-en beesplase.  Mense sien dikwels kangeroes tussen die bome weghop wanneer hulle die trein hoor aankom.

2 uitsig

Die stoomtrein wek baie belangstelling:  By elke padkruising staan daar skares mense wat waai of foto’s neem.

Die passassierswaens is in die 1960’s in Nigel in Suid-Afrika gebou en is in uitstekende toestand.  Mens glimlag as jy sien wat op die vensterknippe staan:  ‘Press/Druk’.

3 waar gebou

Die trein vertoef ongeveer drie ure in Dwellingup.  Mens kan dus daar afklim en die dorpie gaan verken en dan gaan piekniek hou op groot grasperke onder die bome naby die stasie.  Die lokomotiewe word intussen na ‘n wateraanvulpunt geneem om volgemaak te word.

5 gooi water

Vanuit Dwellinup is daar ook nog ‘n ander trein, met oop waens, waarmee mens die woude kan invaar op ‘n spoorlyn wat destyds gebruik is om die groot ou boomstompe uit die berge na die saagmeule toe aan te ry.  (Vandat die bome nie meer afgesaag word nie, het die woude baie mooi herstel en die omgewing is prentjie-mooi.)

6 oop waens

Die laatmiddag se rit huistoe is afdraande en die lokomotiewe hyg en blaas dus heelwat minder teen die steiltes af.  Die waens wieg gemaklik heen en weer en die staalwiele suis gerusstellend oor die spore.  Buite flits die landskap verby met skaduwees wat al hoe langer rek in die laatmiddagson.   Dis dan ‘n goeie tyd om die vensters toe te skuif, te ontspan en  ’n uiltjie te knip…

9 huistoe

 

*      *      *


4 Responses to “Die stoomtrein na Dwellingup”


  1. Oktober 12, 2009 at 9:01 vm

    Ag dit klink na só ‘n lekker uitstappie en die landskap is so pragtig! Dit laat my ook terug dink aan ons rit ‘n paar jaar gelede op die Outeniekwa Tjoe Tjoe… die kondukteur wat die fluitjie blaas as die trein uit die stasie vertrek, die lang fluit as die trein ‘n oorgang nader en die pragtige omgewing waarlangs die trein ry. Nee, ek stem Kyker, daar’s net daai iets omtrent ‘n stoomtrein…

  2. Oktober 12, 2009 at 2:13 nm

    Stoomtreine (wat eintlik so omgewings-onvriendelik is!) het ‘n baie eiesoortige bekoring. Baie interessant dat die pasassierswaens in SA vervaardig is.

  3. Oktober 13, 2009 at 9:21 vm

    Jinne dis regtig iets besonders!

  4. November 1, 2009 at 12:46 nm

    Hoe laat jy my verlang na ‘n rit op so ‘n trein. My laaste treinrit in SA was juis op ‘n stoomtrein – vanaf die plaas na die dorp. Dis jaaaa-re gelede. [nee, nou jok ek, ek was darem weer op 'n trein in PTA - met 'n speelgroepie-uitstappie :) -]


Leave a Reply




Op soek na iets? Tik die woorde hier in:

© Kopiereg voorbehou op alle plasings.

Page copy protected against web site content infringement by Copyscape

Datums met inskrywings

Oktober 2009
M T W T F S S
« Sep   Nov »
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Bladsye