
Perth is nou nie eintlik ‘n plek waar daar te veel aangaan nie, selfs op ’n besige dag. Op weeksdae maak meeste winkels streng teen vyf uur al hulle deure toe. Saterdae en Sondae is amper al die besighede hier gesluit. (Daar is wel nou die dag referendum gehou om te besluit of winkelure verleng moet word, maar die voorstel is toe met ’n sterk meerderheidstem afgekeur.)
Nietemin, as dinge begin druk en as mens voel die stad se gewoel raak te erg, dan kan jy altyd bietjie wegbreek bosse toe, al met die agterpaaie langs in die platteland in.
Mens ry net ongeveer 20 km uit die stad uit en dan is jy in plaaswêreld. Hierdie tyd van die jaar is die landskap erg mooi: Alles is groen na die winterreëns. Die weivelde is oortrek van miljoene geel blommetjies.
Baie boere het ’n paar weke gelede hawer geplant, wat een van die dae gereed sal wees om gesny en gebaal te word vir die lang droë somermaande wat voorlê. Op die oomblik is daar egter ’n oorvloed van weiding beskibaar. Die beeste langs die pad is almal vet en tevrede.

Ek het die naweek sommer so agter my neus aangery. Die kronkelpad het naderhand nouer geword en die bosse al hoe ruier. En toe kom ek op Wooroloo af. Dis so ’n klein, half vergete gemeenskappie in die middel van nêrens.

Daar is net een winkel op die dorp: Wooroloo Liquor & General Store. Ek het daar gestop vir ’n lafenis en ook die eienaar gevra om die pad van daar af verder aan te beduie. Die ou oom wat die winkel bestuur, het op sy stoep gesit en koerant lees toe ek daar aankom. Ek glo nie hy kry baie kliente op ’n dag nie. Maar die winkel het alles te koop aangebied: Suiker, meel, seep, kafeeware en drank.
Oppad uit het ek die advertensies gelees wat op die winkeldeur vasgeplak was: Daar was hooi te koop teen $10.50 per baal. Iemand wat perde beslaan en hulle tande kan regdokter, en wie beweer dat hy die beste man in die kontrei was met hierdie dinge, het sy nommer daar gelos. Daar was inligting oor die volgende lanbouskou op ’n groter naburige dorp.
Langs die algemene handelaar het daar ’n ry houthuisies gestaan, meeste van hulle met stoepe vooraan. Daar was rusbanke in die skaduwee en blomplante wat van die balke afhang. Die dorpie se kerk was net ’n entjie verder aan met die straat af: So ’n klein klipgeboutjie, met ’n geroeste kruis op die dak.

Ek het gesien dat daar op elke erf in die agterplaas nog ’n buitehuisie staan. Party van hulle was netjies dieselfde kleur as die huis geverf, met hier en daar blomme wat die mure so half toerank.

Daar was een geroeste petrolpomp op die dorp. ’n Entjie verder aan was daar ’n publieke telefoonhokkie, met ’n paar mense wat hulle beurt afwag om te bel. Die poskantoortjie was net oorkant die straat.
Amper al die geboue in die dorpie se enigste ander straat se mure was van hout, en almal het rooi sinkdakke gehad. Hier en daar het daar sulke outydse groot motors onder die skadubome gestaan. Agter in die erwe was daar rye vrugtebome en netjiese beddings groente. Ek het een of twee geroeste ou trekkers sien rondstaan wat gelyk het of hulle lanklaas geroer het.
Ek het op pad huistoe vêr deur die bosse gery voordat ek ander verkeer teëgekom het. Dit was ’n rustige sommersnamiddag, met die son wat skyn op die velde en skape wat luiweg lê en herkou onder die koeltebome.


Ek het by die huis gaan oplees oor Wooroloo: Dit is een van baie dorpies wat ongeveer ’n honderd jaar gelede ontstaan het toe ’n spoorlyn deur die gebied aangelê is. Vroeër jare was daar blykbaar ook ’n hospitaal waar mense wat tuberkulose gehad het, behandel is.

* * *
Eerste!
Kyker, dit lyk so lekker rustig, pragtig groen (so totale kontras met hoe die ou Bosveld na die winter lyk). Ons het darem so ‘n 8mm gehad in die week, dus begin die veld kleur wys.
Wooroloo laat my dink aan my grootworddorp in die Vrystaat – Memel, of selfs Roedtan hier op die vlakte. Verskil is net in die RSA sal daar minstens 3 kerke wees….
Lyk so vreedsaam en rustig. Dit klink ook soos ‘n ou plekkie waar tyd gaan stil staan het. En wie sal nou op die hoofpaaie wil ry as mens so lekker in die natuur kan wees en sommer net stilhou waar jy wil as jy ‘n foto wil neem. Aai en jou foto’s is alweer só mooi!
Huisvrou: Ek glimlag nou oor jou opmerking oor drie kerke.
Thea: Ja wat. Hier kan mens stop waar jy wil. Moet tog net nie die kangeroes te veel skrik maak nie. Hulle hop soms vervaard weg in alle rigtings daar waar mens van die pad af trek.
Hehe. Ek wou nogals die naweek ten minste ene in een van my kiekies inkry, maar almal het my voorgespring en hulleself te vinnig uit die voete gemaak. Verlede week op pad werk toe was daar ‘n storie oor die radio hier: ‘n Sielkundige was besig om ‘n pasient te sien in haar spreekkamer, toe ‘n kangeroe skielik, sonder rede, dwarsdeur haar venster na binne spring en wild begin rondhop. Dit het glo baie konsternasie veroorsaak. (In sommige boomryke buitewyke van die stad is kangeroes volop en hulle word partykeer daar in tuine gesien.)
Kyker, dis pragtige foto’s, ek het jou ander inskrywing oor die park ook geniet. Dis interessant om die verskillende werelddele te sien en te sien hoe van die dele baie lyk na plekke in SA. Hierdie foto’s laat my dink aan die groen weivelde van Natal.
Jy weet, as ek nou nie so ingebore wrewel teenoor Oz gehad het nie, sou ek gedink het Wooroloo is NET die plek vir my.
Waar kom die naam vandaan, weet jy?
(Daai fiets teen die heining is ‘n classic!)
Nikita: Ek stem. Die omgewing hier is dikwels baie dieselfde as plekke in Suid Afrika.
Vlam: Hier is ‘n brokkie nuttelose inligting om jou vraag te beantwoord: “Its name was derived from the Aboriginal word ‘Worrilow’, which referred to certain pools along the brook. The current spelling was used from around 1896.” Ek kon nie meer uitvind as dit nie.
Die Suid Afrikaanse Kolonie van Perth lyk heel mooi.
Hallo Kyker, dit is so pragtig!
Wat ‘n heerlike uitstappie!
Dit laat my eweskielik dink aan my dagdroom om eendag op De Rust te gaan woon.
Wooroloo.. hene die Aboriginaltaal is ook pragtig! Hulle het water baie waardeer!
Billabong en Coulibah en swagman en billy is seker alles vermengings van Engels en Aboriginee en tipies van Australië seker.
Once a jolly swagman sat beside the billabong,
under the shade of a Coulibah tree
and he sang as he sat and waited till his billy boiled:
who’ll come a waltzing matilda with me…
Expat: Hier is al reeds ver oor die 100,000 Suid Afrikaners in Perth. Maar tot nou toe het niemand nog op die strand uit ‘n boot gespring, ‘n vlag geplant en laat waai met Die Stem nie. Dus is ons nog nie ‘n kolonie nie. Hehe.
Dagse Annora. Ek hou ook van die mooi, unieke plekname in die land, al weet niemand meer wat dit nou eintlik veronderstel is om te beteken nie. En ja, die liedjie is baie eie aan Australie. Hulle kan dit so hoendervleis-lekker sing tydens groot byeenkomste.
Ag ou kyker… Weereens is dit dit mooi!
My fave is die fietsie teen die heining. Bliss!
Tweede en derde kiekies… Dit lyk of die wind ongelooflik sterk gewaai het…Die reuse buig behoorlik agteroor!
Dankie GvdS: Die boere hier laat staan plek-plek in hulle lande sulke groot alleen-bome. Dit laat die omgewing sommer baie mooi lyk.