
Daar is ‘n baie interessante museum in Lima, met ‘n indrukwekkende versameling van goue, silwer en koper voorwerpe van oral oor Peru. Sommige van hierdie kunswerke is meer as 2,000 jaar oud en elkeen van hulle is werklik besonders mooi.
Die versameling word gehuisves in ‘n yslike groot kluis onder die strate van Lima. Wagte staan voor ‘n swaar staaldeur waardeur mens na binne gaan om na al die mooi dinge te kyk wat binne in die halfdonker wag.

Voor die koms van die Spanjaarde na Suid Amerika het die plaaslike stamme ‘n heel ander betekenis aan goud en silwer geheg: Dit het geen kommersiële waarde gehad nie. Hierdie metale was egter van groot simboliese belang en het ’n belangrike rol gespeel in tradisionele rituele. Goud en silwer is om die beurt aangewend om die teenpole van lewe & dood, manlik & vroulik, son & maan, dag & nag uit te beeld.


Goud en silwersmede het hierdie metale ook aangewend om alledaagse gebruiksartikels van te maak, soos bekers en bakke.

Die goudsmede van weleer het groot vernuf en vakmaskap aan die dag gelê om hier die mooi dinge te maak. Die Spanjaarde wat Suid Amerika in die middel 1500’s verower het, het min bewondering daarvoor gehad. Vir hulle was die bekoring van goud en silwer slegs in die Europese kommersiële waarde daarvan gesetel en ontelbare kunsskatte is gedurende daardie tyd in stawe opgesmelt en na Europa verskeep.
Die oudste voorwerpe in hierdie spesifieke versameling dateer uit 1,500 jaar voor Christus en is afkomstig uit sentraal Peru. Die kennis om met goud en silwer te werk het van daar af later na Chile en ook na Argentinië versprei. Die beste voorbeelde van uitstekende vakamanskap dateer uit tussen 200 v.C en 700 n.C, gedurende die hoogtepunt van die Mochica periode.
Behalwe ‘n groot verskeidenheid goue maskers, bekers en bakke, is daar ook pragtige voorbeelde van antieke juweliersware in hierdie museum te sien, soos in die foto’s hieronder.
* * *
Ek is mal oor die maskers!
Ek kon dit amper nie glo toe my oë op die onderste foto val nie. Ons het gister vriende raakgeloop wat ons baie lanklaas gesien het en die vrou het feitlik dieselfde halssnoer aangehad. Hare is natuurlik nou nie van regte goud nie maar die ontwerp is presies dieselfde. Dis regtig iets besonders. Die reliëfwerk op die bekers is ook pragtig.
Die juwele is ook pragtig.
Dankie julle. Ek het nog ‘n kiekie van ‘n mooi armband ook hierbo bygesit. Meer inligting oor hierdie spesifieke goudversameling (dit staan bekend as die Hugo Cohen Gold Collection) is te siene by:
http://www.limaeasy.com/museums/museo_banco_central.php
Die bekers het my dadelik getrek, maar die juwele is ook baie mooi, veral die armband. Sjoe Kyker, dit is vreeslike interessante plekke wat jy besoek het, ek snak na my asem en hoor telkens ʼn WOW uit my keel glip.
Mooi maskers, maar as ek van hulle in die nag moet teëkom, dan skrik ek my bloedgroep weg!
Ongelooflik om te dink hoe oud hierdie beskawings is. Ek sien jy neem lekker foto’s in die museums. Is dit steelfoto’s of word dit toegelaat? Hier waar ek bly is daar sulke nare ooms en tannies wat jou agtervolg en dan in kwaai Koreaans met jou praat, sou jy dit waag om foto’s te neem (en in Japan ook, nou dat dit my byval).
Mefri: Ek vind die geskiedenis van Suid Amerika baie interessant. Oral sien mens nou nog die mooiste pottebakkery, weefwerk en kundigheid met die werk van metale. Alles dinge wat lank voor die Spanjaarde se koms al hoogs ontwikkeld was. Die Spanjaarde het, ten spyte daarvan dat hulle soveel van die inheemse kulture vernietig het, darem ook weer iets bygedra met hulle mooi statige ou geboue en ook baie mooi kerke en kloosters in die groot stede.
Nikita, ja-nee. Ek lees dat die mense in die ou tyd vreeslik wreedaardig te kere gegaan het onder mekaar. Hoe vinniger mens dus kon weghol, hoe beter.
Boer: By die plek was niemand gepla oor foto’s neem nie. Solank mens net nie ‘n flits gebruik nie. Ek was later af in ‘n katakombe onder ‘n ou klooster in Lima. Ek sou baie graag daar wou kiekies neem van die geraamtes wat daar opgestapel was in die donker hoekies, asook van al die mooi bouwerk. Maar daar het hulle alles ten strengste verbied en ons almal fyn dopgehou vir kameras.