
Die La Recoleta-begraafplaas is ’n bekende besienswaardigheid in Buenos Aires. Dit is in 1822 aangelê en het oor die jare gegroei tot een van Argentinië se belangrikste kultuurskatte.

’n Vrygemaakte slaaf, ene Juan Benito, is die eerste person wat hier begrawe is. Sedertdien is daar nog sowat 4,800 graftombes bygevoeg. Elke bietjie beskikbare spasie van die terrein van ongeveer 50,000 vierkante meter is nou reeds benut. Die graftombes staan sy aan sy, in nou stegies wat vanuit ’n sentrale punt vertak.



Hier rus landspresidente, politici, militêre leiers, gesiene bugers, kunstenaars en gewone mense. Argentinië se geliefde Evita Peron is ook hier begrawe.

Die graftombes wissel van heel beskeie tot hoogs uitspattig in hulle ontwerp. Sommige is steeds na 150 jaar nog in uitstekende toestand. Ander darenteen is nou heel vervalle en met varings en bossies begroei.


Dis ’n baie interessante plek en ek het gister ure lank daar rondgeloop. Die tombes met hulle inskripsies, beelde en verskillende boustyle vertel elkeen ’n unieke storie. Daar is koperplate met inskripsies wat vertel van mense se beroepe en wat hulle alles bereik het in hulle lewens. Daar is huldeblyke van vriende. Daar is verklarings van hartseer en liefde van familielede.
Baie tombes se deure het vensters in. As jy na binne inloer sien jy kerskandelare, familieportrette in silwer rame. Soms word statige houtkiste prominent vertoon. Dikwels sien jy net steil trappe wat na iewers diep en donker afkronkel.


Daar is baie skoonmakers hier wat pal besig is om sommige van die tombes binne te versorg met hulle skrop-emmers, besems en verestowers. Potplante word natgegooi en daagliks bietjie buite gesit sodat hulle kan son kry.

Die begraafplaas is yslik groot. Ten spyte van die baie toeristeverkeer bevind mens jouself dikwels iewers alleen in ’n nou stegie tussen die rye ineengerygde grafte. Daar heers ’n rustige stilte hier. Mens hoor net die gekwetter van voëltjies en die gesuis van die wind om die hoeke van die tombes, of skoonmakers se besems wat vee oor die growwe teëls.

Daar is iets tydloos aan hierdie plek. Die ou, onversorgde tombes wat stadig besig is om te verkrummel daar waar hulle tussen al die blink en nuwes staan, verleen ’n statige atmosfeer van berusting aan alles. Die ou geroeste slotte aan die deure en die spinnerakke aan die ystertralies pas almal net reg in by hierdie spesiale plek in die middel van die besige stad.


Verder bly daar nie veel oor om te sê nie, behalwe: Sjuut, stilte asseblief. Hier word daar gerus.

* * *













RSS - Posts
Onlangse kommentaar