17
May
09

die swartwoud

01 swartwoud vallei

Die Swartwoud lê in die suidwestelike hoek van Duitsland, naby die grense van Frankryk en Switzerland. Die woude beslaan ‘n 170 km lang strook tussen Karlsruhe en Basel.  Bosbou is die belangrikste bedryf.  Laer af in die voetheuwels van die berge is daar ook heelwat wingerde en vrugteboorde.  Hier woon nie baie mense nie en die atmosfeer is heeltemal anders as die gejaagtheid van Duitsland se stedelike gebiede. 

03 swartwoud lande

Die landskap is prentjie-mooi, met golwende heuwels en berge tussen die baie valleie.  As mens op die agterpaaidjies ry, is daar elke paar kilometer nog ’n klein dorpie weggesteek in die voue van die groen heuwels.  Die plekkie hieronder is bekend vir sy warmwaterbronne.  Daar is ‘n paar eksklusiewe gesondheidsoorde hier waarheen mens kan kom om te ontspan en gepamperlang te word elke dag. 

02 swartwoud dorpie in vallei

Die dorpies en omliggende woude vloei harmonieus ineen.  Mens sien nie heinings of mure nie.  Huise word pynlik netjies in stand gehou.  In die somertyd is daar veelkleurige blome onder elke venster te sien.

05 swartwoud dorpie 1

Sommige plekke het die mooiste uitsigte oor die valleie, soos byvoorbeeld hierdie klein kerkie iewers langs die pad.  Agterlangs kan mens die kronkelpaaidjie sien wat hierdie dorpie met die volgende ene verbind.

06 swartwoud kerkie

Elke dorp het ’n gastehuis of hotel.  Ek neem aan dat hulle in die winter net so goed besigheid doen met besoekers wat kom ski, as in die somer wanneer baie stedelinge hier bietjie rus en son kom soek. 

07 swartwoud hotel

Ek het gehou van hierdie hotel wat soos ’n koekoekklok lyk.  Alles werk, kompleet met deurtjies wat oop en toe klap elke uur.  Die groot klok se meganisme word aangedryf met ’n waterwiel wat deur ’n bergstroompie gevoed word.

10 swartwoud koekoekgastehuis

Daar is baie plekkies in die omgewing wat mens te voet kan gaan besoek.  Daar is murasies van ou kastele in die berge.  Daar is baie watervalle in versteekte valleie.  Ek het eendag na een van hulle gaan stap.  Dit was ‘n stywe entjie se loop teen die steiltes uit, maar tog die moeite werd.  Ek hou van die atmosfeer in die woude:  Die klam koelte en die misterieuse skaduwees onder die bome.  Die geluid van bergstroompies, die wind wat suis deur die dennetakke en voëls wat roep.    

Ek het die foto hieronder geneem op pad terug van die waterval af.  ’n Seuntjie het alleen tussen die groot ou bome langs die pad gesit en boek lees.   

11 swartwoud sit in stilte

 

*     *     *


17 Responses to “die swartwoud”


  1. Mei 17, 2009 at 12:40 nm

    Ek hou van jou blog se nuwe voorkoms Kyker! Jou foto’s is BAIE mooi maar die laaste foto is ONGELOOFLIK mooi! Die foto weerspieël absoluut die rustigheid van die woud. Ons was in 2005 op ‘n bustoer deur Europa en het deur die Swartwoud gery oppad Switserland toe en ek het myself belowe ek wil weer eendag teruggaan en op my tyd die omgewing bekyk. Die hotel met die koekoekklok lyk soos ‘n prentjie uit ‘n sprokiesverhaal! Die Duitsers waarmee ons destyds te doene gekry het tydens ons reis, was baie vriendelike, behulpsame mense!

  2. 2 Mefri
    Mei 17, 2009 at 12:59 nm

    Kyker ek beny jou, O ek wens ek kon dit self ervaar, dit is lieflik! Dit laat my aan Oostenryk dink. Die berge, sneeu, silwerskoon omgewing, kabbelende water stroompies, die geklingel van die klok om die perd se nek terwyl sy gekloste pote klippe-die-klap oor die hout bruggies trippel…..

    Ek kan sien die boustyl is ook baie naby aan hulle sin. Die mooiste is die foto van die woud. Dankie vir hierdie uitsonderlike vreugde.

  3. Mei 18, 2009 at 6:32 vm

    Baie mooi foto’s Kyker! Ek sal nie omgee om dit self eendag te sien nie, maar daardie plekke wat mens so wil pamperlang sal jou seker deur jou nek laat betaal. Daar moet seker ‘n goedkoper manier wees, ek dink nie toe ou Koos Doep geskryf het “Ek ken die Rynland-nagte, die alpe met sy sneeu, Die swartwoud se geheime, en die liedjie van ‘n meeu” het hy dit so breed gehad nie. (Ek weet nie waar die meeu inkom nie!)

  4. 4 Groot voet
    Mei 18, 2009 at 11:27 vm

    Ek en my vrou het die voorreg gehad om laasjaar vir so paar dae deur die suide van Duistland te toer op ons eie. Ons was in hulle vroee lente daar en toe het dit nog gesneeu. Dis was sprokies mooi. Eendag sou ons graag wil terug gaan in die somer. Duitsland is ‘n pratige plek.

  5. 5 kyker
    Mei 18, 2009 at 12:29 nm

    Thea: Ek stem saam: Ek het die Duitsers daar ook behulpsaam en vriendelik ervaar, en trots op hulle mooi land.

    Mefri: Ek weet maar min van Oostenryk af. Was dit ni op ‘n stadium maar deel van Duitsland nie? Miskien is die kulture dus baie eenders.

    My Kop: Koos Doep kon enige woorde laat mooi klink. Weet jy, mens kan nogals mens se geld rek in Duitsland. Ek het lekker gebly in eenvoudige hotelle. Alles is immers orals silwerskoon. En die gesondheidspa ek ek maar net so van ver af beloer. My begroting sou dit nooit hou nie.

    Groot Voet: Gee my enige dag sonskyn en warmte. Ek is nooit op my gemak in die sneeu nie. Dis net te koud.

  6. Mei 18, 2009 at 3:28 nm

    Dis beautiful en ek stem saam met die sonskyn! Die sneeu is mooi, maar dis ook al!
    Daardie 3e foto lyk baie soos Korea in die somer.

  7. Mei 18, 2009 at 7:45 nm

    Toe ek ‘n klein dogtertjie was, was die Swartwoud Kliniek op die kassie gewees. Ek was verlief op die woud en die omgewing waarin die storie afgespeel het.

    **sug** – Woude, veral die feetjie woude is darem mooi!

  8. 8 kyker
    Mei 18, 2009 at 10:09 nm

    Kaalvoet: Dit klink asof Korea dan nog heelwat woude oor het ten spyte van die min spasie in die land? Dit laat my dink aan Japan, waar die valleie vreeslik opgebou is. Die grootste deel van die land, in die berge, is egter nog feitlik ongeskonde.

    GvdS: Die storie op TV kan ek nie onthou nie. As kind wou ek altyd in die oerwoud uitkom, om daar aan ‘n regte bobbejaantou te kan swaai nes Tarzan. Aaahoehoe-hoe-aa! Hehe. En feetjies was vir sissies.

  9. Mei 19, 2009 at 2:56 nm

    Ek’s dan ook ’n sissie. Het nie lank gelede Magoebaskloof gaan stap en ’n ‘regte’ feetjie met my eie oë gesien eeeennn ook onder die hoogste boom in Afrika gestaan. (die boom gedeelte is rêrig waar, gaan kyk maar gerus eendag)

    En nee tog Kyker, onthou jy darem vir Arsène Lupin en Misdaad enenen die Tierbrigade? Aah…, en wat van ‘Die meisie van Avignon’. Dit het die alle mooiste kenwysie gehad. Vandag nog kry ek ’n knop in my keel as ek daarna luister.

    Nou wanneer kry ons die resep vir die wêreldbekende Swartwoudkoek? Moet tog nie sê jy het nie eens gaan proe nie.

    Dankie vir jou inloer by my blog, nie seker van die TERUG nie…

    Sehr schön post und photographie. Gut gemacht, Kyker.

  10. Mei 19, 2009 at 3:01 nm

    En ja, ek hou ook van jou nuwe voorkoms. Die agtergrond komplimenteer jou foto’s. Goeie keuse. Baie mooi.

  11. 11 kyker
    Mei 19, 2009 at 10:26 nm

    Wnb: Ek onthou al die reekse waarna jy verwys ja. Jy moet my nie vra vir koekresepte nie. Van bak weet ek niks nie. My Duitse ma kon die lekkerste sjokoladekoek bak, sommer so klits-klits en uit haar kop uit. Ongelukkig het ek niks van haar talente ge-erf nie.

  12. Mei 20, 2009 at 11:35 vm

    Gelukkig is ek ‘n sussie en ‘n sissie… ;)

    As ek mag vra…. Hoekom het jy jou site se look verander en hoekom donker?

  13. 13 kyker
    Mei 20, 2009 at 12:18 nm

    GvdS: Ek was op soek na ‘n template wat meer ruimte bied om in te skrywe en kiekies in te plak. Jy sal sien hierdie ene is bietjie wyer as die vorige een met die wit agtergrond wat ek altyd gehad het. (Vergelyk ’swartwoud’ se fotogrootte met my ander ouer inskrywings en jy sal die verskil sien.) Al my ander opstellings soos widgets en so aan het net so, sonder dat dit nodig was om te verstel, oorgekom. Ek moes net bietjie torring aan die opskrifprentjie hierbo om dit weer te maak pas.

  14. Mei 24, 2009 at 8:53 nm

    Ek het maar net gewonder of dit ‘n rondom besluit was. Dit lyk stunning… Was net nuuskierig.

  15. Mei 27, 2009 at 1:12 nm

    Ek dink die die woord is “jaloers”…

  16. Junie 28, 2009 at 10:02 nm

    Sekerlik het jy nou al gereis, teruggekom, weer gereis en weer teruggekom? :roll: Hoe lyk dit met nog ‘n possie? :wink:


Leave a Reply




Op soek na iets? Tik die woorde hier in:

© Kopiereg voorbehou op alle plasings.

Page copy protected against web site content infringement by Copyscape

Datums met inskrywings

Mei 2009
M T W T F S S
« Apr   Jul »
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

Bladsye