
Die Swartwoud lê in die suidwestelike hoek van Duitsland, naby die grense van Frankryk en Switzerland. Die woude beslaan ‘n 170 km lang strook tussen Karlsruhe en Basel. Bosbou is die belangrikste bedryf. Laer af in die voetheuwels van die berge is daar ook heelwat wingerde en vrugteboorde. Hier woon nie baie mense nie en die atmosfeer is heeltemal anders as die gejaagtheid van Duitsland se stedelike gebiede.

Die landskap is prentjie-mooi, met golwende heuwels en berge tussen die baie valleie. As mens op die agterpaaidjies ry, is daar elke paar kilometer nog ’n klein dorpie weggesteek in die voue van die groen heuwels. Die plekkie hieronder is bekend vir sy warmwaterbronne. Daar is ‘n paar eksklusiewe gesondheidsoorde hier waarheen mens kan kom om te ontspan en gepamperlang te word elke dag.

Die dorpies en omliggende woude vloei harmonieus ineen. Mens sien nie heinings of mure nie. Huise word pynlik netjies in stand gehou. In die somertyd is daar veelkleurige blome onder elke venster te sien.

Sommige plekke het die mooiste uitsigte oor die valleie, soos byvoorbeeld hierdie klein kerkie iewers langs die pad. Agterlangs kan mens die kronkelpaaidjie sien wat hierdie dorpie met die volgende ene verbind.

Elke dorp het ’n gastehuis of hotel. Ek neem aan dat hulle in die winter net so goed besigheid doen met besoekers wat kom ski, as in die somer wanneer baie stedelinge hier bietjie rus en son kom soek.

Ek het gehou van hierdie hotel wat soos ’n koekoekklok lyk. Alles werk, kompleet met deurtjies wat oop en toe klap elke uur. Die groot klok se meganisme word aangedryf met ’n waterwiel wat deur ’n bergstroompie gevoed word.

Daar is baie plekkies in die omgewing wat mens te voet kan gaan besoek. Daar is murasies van ou kastele in die berge. Daar is baie watervalle in versteekte valleie. Ek het eendag na een van hulle gaan stap. Dit was ‘n stywe entjie se loop teen die steiltes uit, maar tog die moeite werd. Ek hou van die atmosfeer in die woude: Die klam koelte en die misterieuse skaduwees onder die bome. Die geluid van bergstroompies, die wind wat suis deur die dennetakke en voëls wat roep.
Ek het die foto hieronder geneem op pad terug van die waterval af. ’n Seuntjie het alleen tussen die groot ou bome langs die pad gesit en boek lees.

* * *











RSS - Posts
Onlangse kommentaar