
‘n Paar dae gelede het ons hier in Australië ANZACdag gevier en dit was ’n lang naweek. Die Aussies neem ANZAC ernstig op. Hierdie jaarlikse geleentheid is aanvanklik ingestel om soldate van Australië en Nieu Zeeland wat in die eerste wêreldoorlog gesneuwel het, te gedenk. Deesdae word almal wat oor die jare vir die land militêre diens verrig het, op hierdie dag vereer. Daar is vroeg oggend ’n parade deur die stad se strate. Oud-soldate, of hulle familielede, dra dan met trots hulle blinkgevryfde medaljes en neem deel aan die mars. Al die stad se militêre gedenktekens word met blomme versier.
Ek was met hierdie jaar se ANZACdag by Point Walter, teen die Swanrivier. Hier is daar ‘n lekker groot park uitgelê met braaigeriewe, grasperke en speelplekke vir kinders.
Hoër op teen die steilte, tussen die bome, is daar ’n dammetjie. Daar staan ’n beskeie monumentjie teenaan die water. Die inskripsie vertel die hartseer verhaal van ’n klompie Rooikruisverpleegsters wat gedurende die tweede wêreldoorlog uit Singapoer voor die aankomende Japanese weggevlug het. Hulle skip is toe later op see gebombardeer en ongeveer 50 van die oorlewendes het toe op ’n eiland uitgespoel. Hier het ’n paar van hulle besluit om hulle aan die Japanese magte op die eiland oor te gee, aangesien daar geen kos of skuiling vir hulle was nie. Die Japanese het toe 22 van die verpleegsters beveel om die see in te stap, waarna hulle met masjiengewere op hulle losgebrand het.
Slegs een vrou het oorleef. Sy is na ’n paar jaar as krygsgevangene, na die einde van die oorlog, terug na Australië.
Lees meer oor hierdie merkwaardige vrou en haar hartseer verhaal by:
http://www.angellpro.com.au/Bullwinkel.htm#Massacre
Dit was ’n loom en stil namiddag by die dammetjie in die park en die gedenkteken met sy hartseer verhaal. Die lig was net reg en ek kon gou ’n hele klompie foto’s neem van ‘n paar eende wat rustig en ongestoord daar rondgeswem het. Ek plaas ’n paar van die kiekies waarvan ek nogal hou, hieronder:





* * *
RSS - Posts
Onlangse kommentaar