
Ek het al ‘n paar keer vantevore geskryf oor plekkies in die Atacamawoestyn. Dis ’n pragtige, dorre streek in die noorde van Chile. Die foto hierbo is naby die Vallei van die Maan geneem. Die wit tussen die heuwels is soutkristalle. (Wat vandag berge is, was miljoene jare gelede die bodem van ‘n meer.)
San Pedro de Atacama is ’n osaedorpie wat al meer as 2,000 jaar lank bewoon word. Dit het sy bestaan te danke aan ’n rivier wat hoog in die Andesberge se pieke deur gesmelte sneeu gevoed word en dan hier in die woestynvlakte wegraak in die sand. Mens kan die dorpie se kolletjie groen van vêr af sien lê teen die voetheuwels van die hoë berge.

Die inwoners het oor die eeue kanale gebou om die rivier se kosbare water versigtig na hul landerye van lusern en vrugtebome uit te lei. Alles is lowergroen. Groot doringbome met growwe stamme gooi hulle skadu’s oor die stofstrate.

Tyd staan hier stil. Die mense maak die mooiste pottebakkery en weef vandag nog, net soos geslagte gelede, pragtige materiaal van llamawol.

Aangesien dit nooit hier reën nie spoel die stof wat van die woestyn af inwaai nooit weg nie. Al die huise en winkeltjies se vloere is dus laer as die strate met hulle stoflaag wat oor baie jare tot omtrent ’n halwe meter opgebou het.
Die weer hier is altyd perfek. Daar is nooit ’n wolkie in die lug nie. Alhoewel die humiditeit baie laag is, pla dit mens nie, want jy hoor oral langs die strate hoe kabbel die water in die leivore.

Elke familie het ‘n lappie grond wat intens bewerk word. Elkeen van die landerye en weikampe vir perde en beeste is met grondmure omring. Daar is min motors. Die meeste verkeer in die stegies bestaan uit voetgangers, fietsryers en mense wat perdry.

Ongeveer tien kilometer buite die dorp is daar ‘n uitgedroogte meer wat sowat 30 km x 10 km groot is. Dis bedek met ‘n dik kors van sout wat wegstrek oor die horison. In die verte kan mens drie vulkane uitmaak. Een van hulle is nog aktief en mens kan dikwels sy rookwolk vanaf San Pedro sien.

In die middel van die soutmeer is daar ‘n klein bietjie water met swerms flaminke.

Dis ‘n onvergeetlike belewenis om hier in die wye verlatenheid, in die stilte van die woestyn, die son te sien ondergaan.

San Pedro is ‘n baie gewilde toerustebestemming. Daar is oulike hotelletjies en uitstekende restaurante wat kos eie aan hierdie streek bedien. Daar is verskeie kunsgallerye en ook ‘n groot vlooimark met baie erdewerk en handgeweefde matte en klerasie om van te kies. Die dorp is ook bekend vir sy mummies. As gevolg van die dorre klimaat het van hulle perfek behoue gebly oor duisende jare, kompleet met hulle klere, hare en gesigsuitdrukkings. Mens kan in die dorpie se museum meer hiervan sien.
* * *













RSS - Posts
Onlangse kommentaar