29
Jan
09

Kokoriba

 

xxx-kokoriba4

 

Net in geval jy nie weet nie: Die foto hierbo hierbo aan my blog is van ‘n neushoringvoël.   Hulle kom algemeen oor groot dele van Suid Afrika voor, en ook in vele ander lande op die kontinent. Daar is ook spesies in plekke soos Indië en Indonesië.  Hulle staan in die volksmond ook bekend as kokoriba’s, waarskynlik na aanleiding van hulle kenmerkende roep. My Duitse familie in Suidwes het altyd van hulle gepraat as “Pfeffervresser” oftewel “pepervreters.”

Ek het op ‘n plaas grootgeword in die Waterberge en hulle was volop in die omgewing. As kind het ek op ‘n stadium, soos seuns maar doen, ‘n boomhuis gebou in die mikke van ‘n reuse ou vyeboom naby die plaashuis. Dit was werklik ‘n grênd boomhuis:  Die mure was van regte Oregon Pine (die plafonplanke van my oupa se eerste huis op die dorp.) Die boomhuis het ook ‘n oulike, gespitste sinkdakkie gehad. (Dié was afkomstig van een van my oupa se groter voëlhokke wat hy in die agterplaas gehad het en wat toe later jare leeg gestaan het.) Om die boomhuis te bou was ‘n hele ingenieursprojek:  Ek het ‘n trekker met toue en katrolle ingespan om al die swaar balke, planke en sinke tot bo in die ou boom op te hys.

Toe my boomhuis uiteindelik klaar was, was dit waarskynlik een van die heel spoggerigstes in die Waterberge. Daar was vensters wat kon toemaak, ‘n netjiese deur op skarniere, ‘n plankstoepie met ‘n valdeur bo die leer om ongewenste besoekers uit te hou.

Smiddae na skool was my boomhuis my vesting. Hier het ek ure lank alleen tussen die takke en die groen lower op my eie deurgebring en drome gedroom soos net ‘n kind maar kan.

En die boom was vol kokoriba’s wat kom vreet het aan sy vye. Ek kon hulle dus hier goed van naby dophou en beter leer ken.

Daar is niks windmakerigs aan ‘n kokoriba nie. Hy kan nie eintlik vlieg nie. Om van die grond af op te styg, is maar ‘n gesukkel.  Die vlerke klap wild en vir ‘n ruk lyk dit asof hy soos ‘n klip uit die lug uit gaan val.  Maar dan vang hy naderhand spoed en kies onbeholpe koers op ‘n trajek wat mens laat dink aan ‘n slapgespande wasgoeddraad. En as hy op ‘n tak wil gaan sit, is dit meeste van die tyd ‘n noodlanding.  Hy klou krampagtig vas met sy pote en gewoonlik kom sy agterstewe en stert nog so ‘n slag of wat by sy kop verby soos hy briek.

Hulle is heel gemaklik met ander voëls.  Baklei nie sommer onder mekaar vir kos nie.  En lekker nuuskierig.  Baie middae as ek hoog in die takke in my hangmat bo-oor die boomhuis se stoep gelê en tob het oor die lewe, het een of twee van hulle saggies nader gehop en my so van ‘n kant af, kop skuins en geel ogies wat loer oor die krom neus verby, kom bekyk.

Hulle broeigewoontes is regtig interessant.  Hulle is lief om gate te kap in die sagte stamme van vyebome.  Met broeityd klim die wyfie dan binne-in die nes.  En dan bou die mannetjie die opening toe met modder, totdat daar net so ‘n klein openinkie oor is, net groot genoeg vir die wyfie om haar snawel uit te steek.  Sy verloor dan al haar vere in die nes. Vir die volgende paar weke hang haar lewe dan af van die mannetjie wat gereeld moet kos aandra.  Die kuikens broei nie gelyk uit nie en verskil dus in grootte en ouderdom.  Wanneer hulle selfstandig genoeg is, bevry die wyfie haarself (teen die tyd het haar vere weer teruggegroei sodat sy kan vlieg) en beide Ma en Pa help dan om die kroos groot te kry.  Die kleintjies word weer sorgvuldig toegepleister en kom dan een-een uit totdat almal die nes verlaat het.

Ek weet nie eintlik hoekom ek die ou kokoriba’tjie hierbo gesit het nie.  Miskien is dit omdat ek net so onbeholpe is soos hulle. (Nou die dag het ek by die huis met ‘n skinkbord vol breekware in my hande, oor my eie voete gestruikel en soos ‘n os op die trappe neergeslaan.)  Miskien is dit omdat hulle vir my ‘n simbool is van die Bosveld en ook omdat hulle my laat terugdink aan ‘n tydvak in my bestaan toe dit nog heel in die haak was om sonder bekommernis of gebondenheid te kon droom oor die lekker dinge van die lewe.

Hoe dit ook al sy, ek hou van my kokoriba-fototjie. Hy hoort hier.

 

 


6 Responses to “Kokoriba”


  1. Januarie 29, 2009 at 9:21 nm

    Lekker gelees, Kyker. :wink:

    Ek wil jou nie onder druk sit nie, maar onthou jy, jy skuld my enetjie oor Chile? :roll: Sal settle vir Argentinie ook…

  2. Januarie 30, 2009 at 5:33 vm

    Dankie vir die interessante inligting Kyker! Behalwe vir die foto’s en videos wat ek hoofsaaklik by piekniekplekke in die Kruger Wildtuin van die neushoringvoël geneem het, het ek andersins nie veel kennis gedra tot nou toe van hulle gewoontes nie.

    Moenie allenig voel oor die onbeholpenheid nie… Ek het ook my “af” dae! Ek noem dit sommer my “Mr Bean” oomblikke! :oops:

  3. 3 Mefri
    February 1, 2009 at 8:43 nm

    Ek is so bly jy skryf weer Kyker! Dankie vir die vreugde.

    sielsverkwikkend
    ongekompliseerd
    sonder pretensie

    eenvoud ontsluit
    skoonheid
    geborge in verrukking

  4. 4 kyker
    February 4, 2009 at 4:16 nm

    Hiert Mefri. Dankie vir jou bydrae hier. Kom loer gerus weer in.

  5. 5 Mefri
    February 4, 2009 at 4:24 nm

    Ai Kyker, as jy maar net kon geweet het, hoe pragtig jou gedigte vir my is….. Ek vind myself kort-kort tussen jou woorde; nie net vir die plesier van die lees daarvan nie, ook omdat ek myself soms tussen die lyne vind.

  6. Julie 26, 2009 at 4:12 nm

    Ek moet nou afskakel – wou net vir jou sê: “Kwê” en “Kôk-kôk-kôk” Bosveldgroete vanaf die Vlakte (al uitsig wat ek op die Waterberge het, is ‘n veraf blou. Nogal erg vir my wat uit die Drakensberg-deel van die Vrystaat kom!)


Leave a Reply




Op soek na iets? Tik die woorde hier in:

© Kopiereg voorbehou op alle plasings.

Page copy protected against web site content infringement by Copyscape

Datums met inskrywings

Januarie 2009
M T W T F S S
« Oct   Feb »
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Bladsye