Tags

,

In die mooiste land aan die suide van ‘n verre kontinent,
In die uitgestrekte ruimtes onder ‘n hemel van die blouste blou,
Waar daar elke aand tienduisend sterre flikker om wag te hou
Oor geilgroen mielies en wuiwende lande van graan;
Daar iewers het ek my hart se punt laat agterbly,
My geluk net so laat staan en oor die see weggegaan.

En miskien, eendag, as ek na my Suidland terugkeer,
My tas gepak met skulpe van ‘n vreemde strand,
Sal somerreën se blink juwele skitter in die son,
Of winternag se ryp die velde wit verbleik in rou.
Dalk staan die doringboom by die hek in volle blom
Of net met droë tak omhoog, leweloos en stom.

Wie dan ook al wag op my in my geboorteland
Miskien met blye omhelsing en hartlik groet
Of dalk net skimme van lank terug se liefdesband;
Ek sal huistoe kom om daar die laaste keer
My jas vir oulaas aan die haak te hang en so,
Uiteindelik, my reis se eensaamheid besweer.

*  *  *