Archive for Januarie, 2009

29
Jan
09

Kokoriba

 

xxx-kokoriba4

 

Net in geval jy nie weet nie: Die foto hierbo hierbo aan my blog is van ‘n neushoringvoël.   Hulle kom algemeen oor groot dele van Suid Afrika voor, en ook in vele ander lande op die kontinent. Daar is ook spesies in plekke soos Indië en Indonesië.  Hulle staan in die volksmond ook bekend as kokoriba’s, waarskynlik na aanleiding van hulle kenmerkende roep. My Duitse familie in Suidwes het altyd van hulle gepraat as “Pfeffervresser” oftewel “pepervreters.”

Ek het op ‘n plaas grootgeword in die Waterberge en hulle was volop in die omgewing. As kind het ek op ‘n stadium, soos seuns maar doen, ‘n boomhuis gebou in die mikke van ‘n reuse ou vyeboom naby die plaashuis. Dit was werklik ‘n grênd boomhuis:  Die mure was van regte Oregon Pine (die plafonplanke van my oupa se eerste huis op die dorp.) Die boomhuis het ook ‘n oulike, gespitste sinkdakkie gehad. (Dié was afkomstig van een van my oupa se groter voëlhokke wat hy in die agterplaas gehad het en wat toe later jare leeg gestaan het.) Om die boomhuis te bou was ‘n hele ingenieursprojek:  Ek het ‘n trekker met toue en katrolle ingespan om al die swaar balke, planke en sinke tot bo in die ou boom op te hys.

Toe my boomhuis uiteindelik klaar was, was dit waarskynlik een van die heel spoggerigstes in die Waterberge. Daar was vensters wat kon toemaak, ‘n netjiese deur op skarniere, ‘n plankstoepie met ‘n valdeur bo die leer om ongewenste besoekers uit te hou.

Smiddae na skool was my boomhuis my vesting. Hier het ek ure lank alleen tussen die takke en die groen lower op my eie deurgebring en drome gedroom soos net ‘n kind maar kan.

En die boom was vol kokoriba’s wat kom vreet het aan sy vye. Ek kon hulle dus hier goed van naby dophou en beter leer ken.

Daar is niks windmakerigs aan ‘n kokoriba nie. Hy kan nie eintlik vlieg nie. Om van die grond af op te styg, is maar ‘n gesukkel.  Die vlerke klap wild en vir ‘n ruk lyk dit asof hy soos ‘n klip uit die lug uit gaan val.  Maar dan vang hy naderhand spoed en kies onbeholpe koers op ‘n trajek wat mens laat dink aan ‘n slapgespande wasgoeddraad. En as hy op ‘n tak wil gaan sit, is dit meeste van die tyd ‘n noodlanding.  Hy klou krampagtig vas met sy pote en gewoonlik kom sy agterstewe en stert nog so ‘n slag of wat by sy kop verby soos hy briek.

Hulle is heel gemaklik met ander voëls.  Baklei nie sommer onder mekaar vir kos nie.  En lekker nuuskierig.  Baie middae as ek hoog in die takke in my hangmat bo-oor die boomhuis se stoep gelê en tob het oor die lewe, het een of twee van hulle saggies nader gehop en my so van ‘n kant af, kop skuins en geel ogies wat loer oor die krom neus verby, kom bekyk.

Hulle broeigewoontes is regtig interessant.  Hulle is lief om gate te kap in die sagte stamme van vyebome.  Met broeityd klim die wyfie dan binne-in die nes.  En dan bou die mannetjie die opening toe met modder, totdat daar net so ‘n klein openinkie oor is, net groot genoeg vir die wyfie om haar snawel uit te steek.  Sy verloor dan al haar vere in die nes. Vir die volgende paar weke hang haar lewe dan af van die mannetjie wat gereeld moet kos aandra.  Die kuikens broei nie gelyk uit nie en verskil dus in grootte en ouderdom.  Wanneer hulle selfstandig genoeg is, bevry die wyfie haarself (teen die tyd het haar vere weer teruggegroei sodat sy kan vlieg) en beide Ma en Pa help dan om die kroos groot te kry.  Die kleintjies word weer sorgvuldig toegepleister en kom dan een-een uit totdat almal die nes verlaat het.

Ek weet nie eintlik hoekom ek die ou kokoriba’tjie hierbo gesit het nie.  Miskien is dit omdat ek net so onbeholpe is soos hulle. (Nou die dag het ek by die huis met ‘n skinkbord vol breekware in my hande, oor my eie voete gestruikel en soos ‘n os op die trappe neergeslaan.)  Miskien is dit omdat hulle vir my ‘n simbool is van die Bosveld en ook omdat hulle my laat terugdink aan ‘n tydvak in my bestaan toe dit nog heel in die haak was om sonder bekommernis of gebondenheid te kon droom oor die lekker dinge van die lewe.

Hoe dit ook al sy, ek hou van my kokoriba-fototjie. Hy hoort hier.

 

 

28
Jan
09

Uit my venster

Ek bly tans in tydelike akkommodasie totdat ek iewers ‘n huisie kan opspoor om heen te trek.  Die omgewing is baie rustig:  Die Swanrivier maak so ‘n gemaklike kronkel hier onder my balkon.  Die oewers is mooi versorg en een van Perth se vele fietspaaie (daar is glo in totaal 700 km van hulle in en om die stad) volg die rivier hier verby en verbind die middestad met en een van die nuwe voorstede.

Australianers hou van die buitelewe en hulle maak elke dag gebruik van al die stad se wonderlike geriewe.  Daar is dus ‘n konstante stroom van drawwers, fietsryers en roeiers hier by die rivier.

Soggens vroeg kom daar  gewoonlik ook ‘n paar pelikane verbygeswem. 

Hier is sonskyn, vars lug en ruimte vir almal.  En dis veilg.  Dis lekker.

Die kiekies hieronder het ek sommer van die balkon af geneem.

xx-cyclist

 

xx-skyline

 

xx-rower

25
Jan
09

Die stof aan my skoene

 
 x-ou-skoene1

 

 

 

In die mooiste land aan die suide van ‘n verre kontinent,
In die uitgestrekte ruimtes onder ‘n hemel van die blouste blou,
Waar daar elke aand tienduisend sterre flikker om wag te hou
Oor geilgroen mielies en wuiwende lande van graan;
Daar iewers het ek my hart se punt laat agterbly,
My geluk net so laat staan en oor die see weggegaan.

En miskien, eendag, as ek na my Suidland terugkeer,
My tas gepak met skulpe van ‘n vreemde strand,
Sal somerreën se blink juwele skitter in die son,
Of winternag se ryp die velde wit verbleik in rou.
Dalk staan die doringboom by die hek in volle blom
Of net met droë tak omhoog, leweloos en stom. 

Wie dan ook al wag op my in my geboorteland
Miskien met blye omhelsing en hartlik groet
Of dalk net skimme van lank terug se liefdesband;
Ek sal huistoe kom om daar die laaste keer
My jas vir oulaas aan die haak te hang en so, 
Uiteindelik, my reis se eensaamheid besweer. 

*  *   *
25
Jan
09

Die strand by Cottesloe

xx1-waves

Perth het ‘n sommer ‘n hele klomp wonderlike strande.  Sommige is afgebaken om aan spesifieke behoeftes te voldoen:  Daar is strande opsygesit spesifiek vir mense met honde.  Op ander plekke word daar weer perde toegelaat.

xx2-beachgoers

Cottesloe strand is gerieflik naby die stad en oop vir algemene gebruik.  Die steil terrasse met groen gras bied volop sitplek vir besoekers.  Daar is ‘n restaurant naby, met vensters wat in alle rigtings oor die see uitkyk.  Oorkant die straat is ‘n hele ry eetplekke wat pizza’s, Italiaanse roomys of aansitmaaltye bedien.

xx4a-indiana-teahouse

Ek hou daarvan om in die laat middag by Cottesloe ‘n draai te maak en te sit en kyk hoe die son in die see wegsak.

xx4-under-trees

Teen skemer kom daar honderde veelkleurige en raserige papegaaie aangevlieg om te kom slaap in die hoogste takke van die statige Norfolk-dennebome wat so kenmerkend van die Cottesloe-omgewing is. 

 xx5-birds-roosting

Nader aan die water is daar natuurlik altyd meeue op die sand, waar hulle ligweg uit die inkomende golwe se pad bly, op soek na ietsie om te eet.

xx3-2-gulls




Op soek na iets? Tik die woorde hier in:

© Kopiereg voorbehou op alle plasings.

Page copy protected against web site content infringement by Copyscape

Datums met inskrywings

Januarie 2009
M T W T F S S
« Oct   Feb »
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Bladsye