19
Oct
08

Roes in vrede

 

Ndola is ‘n klein dorpie op die Zambiese koperbelt wat gedurende die laaste jare erg stoom verloor het.  Dit het sy ontstaan te danke aan die ryk koperneerslae wat in die omgewing voorkom.  In sy gloriedae gedurende die 50’s en 60’s moes dit ’n besige en interessante plek gewees het.  Dis op buiteposte soos hierdie waar die die ongereptheid van Afrika en ook die plaaslike bevolking vir die eerste keer in aanraking gekom het met Westerse tegnologie en die gepaardgaande instroming van groot getalle Britse immigrante.

 

Die Engelse het hulle koloniale boustyl hier gevestig en soos elke ander plek wat destyds deel was van die ou Empire, het Ndola ook sy skole, landroshof, polisiekantoor en hospitaal wat in tipiese Britse styl gebou is.  Van die ou winkeltjies en hotelle in die middedorp handhaaf vandag nog, onveranderd, hulle geaardheid van ‘n halwe eeu gelede. 

 

Vandag staan die meeste ou koloniale huise nog net soos hulle was 50 jaar gelede, onder die skadu’s van lang lanings jakarandabome.  Tuine is groot en lowergroen.  Hier en daar rank daar kleurvolle bougainvillea’s teen die klipmure op.  Verkeer in die hoofstraat is redelik bedrywig, maar as mens tussen die huise inbeweeg word dit gou stil.  Mense kom rustig op swart dikwielfietse verbygery en groet mekaar in die verbygaan.

 

Die ou groot Garrat stoomlokomotief hierbo staan al baie jare lank voor Ndola se stasie uitgestal, in vervalle parkie met jakarandabome en ‘n grasperk wat sukkel om te oorleef in die deinserige somerhitte.  Die ou stasiegeboutjie is in ’n redelike goeie toestand.  Voor wapper daar ’n verslete landsvlag aan ’n paal. Dis stil.  Daar is nie mense op die perron nie.  

 

 

 

Ek het bietjie gaan oplees oor die ou stoomlokomotief.  Dis een van slegs ’n handjievol van sy klas wat nog in die wêreld oorgebly het.  Dis in 1947 gebou.  In die ou dae het hy swaar vragte materiaal noord na die kopermyne vervoer, of na die suide, verby die Victoriawatervalle en deur Rhodesië, na Suid Afrika.    

 

 

 

Langsaan staan daar ’n passassierswa.  Vandale het al heelwat van sy planke afgebreek om mee vuur te maak.  Die laaste vlekkies verf is besig om stadig van sy geroeste onderstel af te dop.

 

 

 

Ek hou baie van stoomtreine.  Al gaan hierdie ou grote nooit weer êrens heen nie, dien hy as ‘n stille, tasbare herinnering aan ’n vergete tyd, toe die tempo van die lewe waarskynlik soveel stadiger was as nou en toe stoomtreine hier die belangrikste, of soms enigste, skakel was met die buitewêreld, etlike honderde myle na die suide. 

 

 

 


13 Responses to “Roes in vrede”


  1. Oktober 20, 2008 at 6:40 vm

    Kyker, jou inskrywing gee Ndola se ou Garrat stoomlokomotief weer nuwe stoom. Dankie.

    Thea het ook tans ‘n inskrywing oor treine op haar blog, gaan loer gerus (as jy nie dalk alreeds het nie). Dis werklik besonders mooi.

    http://teatimewiththea.blogspot.com/

  2. Oktober 20, 2008 at 9:05 nm

    Pragtige foto’s!! Ek gaan my skaakspeler vriend van die US hierheen stuur om na die foto’s te kom kyk. Ek hou veral van die een van die ou hout passasierswa!

  3. Oktober 21, 2008 at 5:52 vm

    Ek sou graag ‘n toeskouer wou wees van Ndola in sy gloriedae. Dis hartseer dat alles so vervalle geraak het en dit nou net herinneringe oproep van ‘n bloeitydperk.

  4. Oktober 21, 2008 at 1:10 nm

    Afrika is vol mensgemaakte skatte. Dit lyk nie of iemand bekommerd is dat dit dalk nie behoue gaan bly nie. Dit laat my so magteloos voel! :sad:

  5. 5 Dan
    Oktober 21, 2008 at 6:12 nm

    The train has obviously seen better days. Unfortunately, I don’t know enough Afrikaans to know what the commentary is about.

  6. Oktober 21, 2008 at 6:23 nm

    Kyker…jy moet vir Dan verskoon, hy is maar ‘n droe kerel, lol! Gelukkig verstaan hy nie Afrikaans nie, hy weet goed wat hier hoofsaaklik geskryf staan, ek het hom in Engels mooi ingelig op die skaak site… haha…kyk die ava wat daar verskyn het, ek dink dis hoe sy kommentaar ook klink :)

  7. November 14, 2008 at 7:44 vm

    Jinne, Kyker, het luiheid nie ook sy perke nie? :roll:

  8. 8 onseieplekkie
    November 16, 2008 at 1:28 nm

    Jinne Kyker, hoop alles is okay?

  9. 9 daizys
    November 24, 2008 at 11:44 vm

    Kyker….wat het dan nou weer van jou geword?

  10. November 25, 2008 at 10:42 vm

    Kyker, wil jy nie maar net laat weet of jy okei is nie?

  11. 11 Sjon
    December 1, 2008 at 7:19 nm

    Kyker, jy word regtig hier baie gemis!

  12. September 22, 2009 at 7:31 vm

    IN DIE JARE 1967 TOT 1997 HET EK OP DIE STOOM LOKOS GEWERK WAS N AMBAGS MAN STOOMPASSER
    EK HET VERAL OP DIE 24 KLAS 15F , 23 EN OP NC 25 KLAS EN DIE 19D KLAS GEWERK EN HERSTEL
    NOU IS EK DIESEL ELEKTRIESE PASSER MAAK DIE GE 34KLAS EN 35GM KLAS REG GROETE ANTON

  13. 13 kyker
    September 22, 2009 at 10:02 vm

    Dankie Anton. Dis lekker om te weet dat iemand wat self nog op die mooi ou stoommasjiene gewerk het, hier kom inloer het.

    Ek onthou nou weer my kinderjare op die plaas: Daar het toe nog stoomtreine verbygekom op die spoor langs ons grensdraad. Elke oggend skuins na ses het daar een of soms selfs twee lokomotiewe verbygestoom teen die bult uit, met ‘n hengse lawaai en met sulke spierwit stoomwolke wat uit die skoorsteen uitkom.


Leave a Reply




Op soek na iets? Tik die woorde hier in:

© Kopiereg voorbehou op alle plasings.

Page copy protected against web site content infringement by Copyscape

Datums met inskrywings

Oktober 2008
M T W T F S S
« Sep   Jan »
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
2728293031  

Bladsye