08
Oct
08

Die eerste lentereëns

 

  

Ek dink dikwels terug na my kinderdae op de plaas.  Dit was ’n pragtige plek.  My kop is vol van al die mooi onthoue wat ek daar bymekaargemaak het. 

 

Vandag het ek teruggedink aan die eerste lentereëns van elke somerseisoen.  Hoe alles en almal vir weke lank in die stowwerige dorheid van die laat winter gewag het op die nuwe somer se nattigheid.  Van dae wanneer die wolke so dikwels belowend in die namiddag opsteek, net om dan weer deur die wind saam met die lande se stoppels oor die vlaktes verjaag te word.

 

Maar dan, eendag, gewoonlik in die middag, kom die eerste reën van die nuwe somer.  Die wolke pak rustig saam en mettertyd raak die son weg agter hul spierwit pluime. Veraf donderweer kom dreuned nader.  Blitse verskyn in die verte.  Die wind gaan lê stil, maar elke nou en dan bring ’n onrustige briesie vir ’n kort rukkie die verfrissende, koel belofte van die varsheid van die eerste reëns.

 

Weldra sien mens die eerste grys vlae van reën so skuinsweg voor die wind oor die vlaktes aankom.  Die bloekombome langs die dam verwelkom met hulle sissende blare die eerste vogtigheid op die bries.  Stoffies slaan op daar waar vet, nat druppels op die dorre aarde neerplof.  En dan, met ’n skielike knal van die donderweer sommer hier naby, sak die reën sonder om terug te hou, uit oor die dorre landskap.

 

Bome en heinings en beeste op die lande vervaag agter ’n grys waterkombers.  Die plaashuis se sinkdak lawaai so erg dat mens amper nie kan gesels nie.  Die water kabbel met die geute af en weldra staan die plasse blink in die holtes van die tweespoorpad na die hek se kant toe.  Die dag se hitte word geblus deur die koelte wat saam met die reën oor alles vou.

 

En dan, skielik, waai die wind die wolke verder aan.  Die son breek deur en ’n reënboog verlig statig die donkerte van die verbygaande storm.

 

Beeste en kalwers huppel sommer skuins laf in die weikampie agter die huis.  Hulle skop hulle agterbene so na die kante toe en jaag mekaar vrolik in die rondte.  Die Piet-my-vrou soek ’n maat in die ry dennebome naby die dam.  Bome en grasse glinster nat en sag in die middagson.  Mens hoor in die agtergrond die geruis van die spruit wat afkom in die laagte.

 

Die nuwe lente is hier.  Tesame met die reën het daar nuwe hoop gekom, en rus vir die siel.  Mens se hart dra sommer lekker aan die herbevestigde band met die natuur en daarmee saam die nuwe bewustheid van die prag van die Heer se skepping.

 

•  •  •

 

 


7 Responses to “Die eerste lentereëns”


  1. 1 onseieplekkie
    Oktober 8, 2008 at 9:17 nm

    Dinge het omtrent verander hier by jou Kyker?

    Ek hou van die nuwe look. Mmmmm, vars soos ‘n eerste lentereëns…

    Ek is soooo bly jy is terug. Jy het ons groot laat skrik jong.

    Is die foto op julle plaas geneem?

  2. 2 kyker
    Oktober 8, 2008 at 9:27 nm

    Dagse Plekkie.

    Dankie. Hoop jy hou van my kokoriba? Daai krom snawel en wille oE pas beter by my as ‘n troupand dink ek. hehe.

    Nee. Die foto het ek raak ge Google by: http://www.africanbackgrounds.com/

    Ek het toe bietjie ge’crop’ en die kleure aangepas.

  3. 3 onseieplekkie
    Oktober 8, 2008 at 9:54 nm

    Ja, ek hou baie daarvan, het nogal gewonder watse soort voël is dit.

    En wat gee jou die idee dat ‘n troupand nie by jou sal pas?

  4. 4 eilandkind
    Oktober 9, 2008 at 5:53 nm

    niks ruik so lekker soos die stof van Afrika, wanneer daardie eerste groot, vet druppels so op die aarde neerplof nie!
    Dankie jou woorde is pragtig.

  5. Oktober 9, 2008 at 6:45 nm

    Jy het my sommer laat verlang na my kinderdae op die plaas as dit gereen het…die druppels op die dak! die kere wat ek by die venster gestaan het as dit so GESOUS het! dan’t die water uit die geute gestroom soos rivier en die geraas/eggo in die kranse was erg soos die water soos watervalle daaroor geval het, soveel so dat jy dit omtrent 2km ver kon hoor!

  6. 6 kyker
    Oktober 10, 2008 at 6:40 nm

    Eilandkind & Nikita: Dankie. Ek voel mos dat dit deesdae nie meer so reen soos in die ou dae nie. Toe het ons nog in die somer in die namiddae sulke lekker kort en kragtige donderstorms gehad, met baie lawaai en baie water in ‘n kort tydjie. En daarna het die son gou weer geskyn. Deesdae reen dit so drupsgewys, heel anders.

  7. 7 daizy
    Oktober 17, 2008 at 8:56 vm

    Ja Kyker…ek is geneig om saammet jou te stem daar…die tye het voorwaar verander


Leave a Reply




Op soek na iets? Tik die woorde hier in:

© Kopiereg voorbehou op alle plasings.

Page copy protected against web site content infringement by Copyscape

Datums met inskrywings

Oktober 2008
M T W T F S S
« Sep   Jan »
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
2728293031  

Bladsye