Ndola is ‘n klein dorpie op die Zambiese koperbelt wat gedurende die laaste jare erg stoom verloor het. Dit het sy ontstaan te danke aan die ryk koperneerslae wat in die omgewing voorkom. In sy gloriedae gedurende die 50’s en 60’s moes dit ’n besige en interessante plek gewees het. Dis op buiteposte soos hierdie waar die die ongereptheid van Afrika en ook die plaaslike bevolking vir die eerste keer in aanraking gekom het met Westerse tegnologie en die gepaardgaande instroming van groot getalle Britse immigrante.
Die Engelse het hulle koloniale boustyl hier gevestig en soos elke ander plek wat destyds deel was van die ou Empire, het Ndola ook sy skole, landroshof, polisiekantoor en hospitaal wat in tipiese Britse styl gebou is. Van die ou winkeltjies en hotelle in die middedorp handhaaf vandag nog, onveranderd, hulle geaardheid van ‘n halwe eeu gelede.
Vandag staan die meeste ou koloniale huise nog net soos hulle was 50 jaar gelede, onder die skadu’s van lang lanings jakarandabome. Tuine is groot en lowergroen. Hier en daar rank daar kleurvolle bougainvillea’s teen die klipmure op. Verkeer in die hoofstraat is redelik bedrywig, maar as mens tussen die huise inbeweeg word dit gou stil. Mense kom rustig op swart dikwielfietse verbygery en groet mekaar in die verbygaan.
Die ou groot Garrat stoomlokomotief hierbo staan al baie jare lank voor Ndola se stasie uitgestal, in vervalle parkie met jakarandabome en ‘n grasperk wat sukkel om te oorleef in die deinserige somerhitte. Die ou stasiegeboutjie is in ’n redelike goeie toestand. Voor wapper daar ’n verslete landsvlag aan ’n paal. Dis stil. Daar is nie mense op die perron nie.
Ek het bietjie gaan oplees oor die ou stoomlokomotief. Dis een van slegs ’n handjievol van sy klas wat nog in die wêreld oorgebly het. Dis in 1947 gebou. In die ou dae het hy swaar vragte materiaal noord na die kopermyne vervoer, of na die suide, verby die Victoriawatervalle en deur Rhodesië, na Suid Afrika.
Langsaan staan daar ’n passassierswa. Vandale het al heelwat van sy planke afgebreek om mee vuur te maak. Die laaste vlekkies verf is besig om stadig van sy geroeste onderstel af te dop.
Ek hou baie van stoomtreine. Al gaan hierdie ou grote nooit weer êrens heen nie, dien hy as ‘n stille, tasbare herinnering aan ’n vergete tyd, toe die tempo van die lewe waarskynlik soveel stadiger was as nou en toe stoomtreine hier die belangrikste, of soms enigste, skakel was met die buitewêreld, etlike honderde myle na die suide.



















RSS - Posts
Onlangse kommentaar