00 graaf en trok

 

Die wêreldwye vraag na grondstowwe soos steenkool, koper en ystererts beleef tans ’n ongekende bloeitydperk, hoofsaaklik gedryf deur China se vinnige ekonomiese ontwikkeling.  Minerale kom dikwels vanaf yslike oopgroefmyne, soos byvoorbeeld Escondida in Chile, waarvan ek ’n foto hieronder plaas.

 oo Cat 797 with people

 

Myne soos hierdie is interessante plekke.  Díe spesifieke myn verskuif byvoorbeeld meer as een miljoen ton materiaal per dag met die hulp van 150 yslike groot vragwaens soos die een in die boonste foto.  (Kyk bietjie na die myn foto:  Die kringetjie omsirkel drie van hierdie groot trokke doer onder in die gat.)

 

00 Escondida myn met sirkel

 

By Escondida bevat elke ton grond wat verskuif word, slegs 1.5% koper.  Die ander 98.5% is afvalgrond wat op groot hope gestort word.  Maar die myn maak nog steeds geld soos bossies:  Hulle verwag om hierdie jaar sowat R75 duisend miljoen (dis reg ja) se koper uit hierdie enkele gat uit die grond uit te haal.  Daar is genoeg reserwes vir nog ten minste ’n verdere 25 jaar.

   00 graaf wat laai

 

Alles op die myn is groot:  Die trokke en ook die laaitoerusting wat hulle volgooi. Die erts word in ’n aanleg verwerk waar die koper met behulp van allerhande slim chemiese prosesse uit die stowwerige grond herwin word.

 

 

 00 trok met bakkie

 

Alhoewel veiligheidstandaarde op alle groot myne deesdae baie hoog is, loop dinge soms wel nog skeef.  Hieronder kan gesien word wat gebeur met ’n Nissan bakkie wanneer een van die myn se vragwaens oor hom ry.  (In hierdie spesifieke geval was die bestuurder gelukkig:  Die vragwa se wiel het net die passasiersitplek langs hom platgetrap.)

 

00 plat bakkie 

Eish…