Ek het vanaand deur my fotoversameling geblaai en toe weer op hierdie kiekies afgekom wat ek eendag in Peru geneem het:
In Lima is daar iewers in die stad, in een van die pragtige ou statige geboue, ‘n oulike privaatversameling van kunswerke uit die 1930’s en 1940’s. Gedurende hierdie tydvak was daar twee sterk, botsende denkrigtings in Peru se beeldende kunste. Aan die een kant was daar kunstenaars wat die eiesoortigheid van die Peruviaanse kultuur wou beklemtoon. Aan die anderkant was daar ‘n groep wat bekend gestaan het as die Onafhanklikes. Hulle het hofsaaklik bestaan uit oorlogsvlugtelinge uit Europa wat in Peru ‘n nuwe lewe begin het. Die Onhafhanklikes het gestaan vir vernuwing en die beklemtoning van estetiese waardes eerder as volksnorme en ideologie in die beeldende kuns.
Ek hou van altwee style. Daar is iets bekoorliks aan die kleurvolle en huislike eenvoud van die Eiesoortiges. Hulle beeld ook die uniekheid van Peru se kultuur goed uit.
Die Onafhanklikes is egter meer boeiend en bevredigend, met ‘n dieper betekenis wat in hul skilderye skuil.
Hierdie werk (‘Die koffie’ – Fernando de la Jara) is sommer verfrissend anders. Dit hou mens se kop lekker lank besig terwyl jy die betekenis van al die fasette van die skildery probeer uitpluis.
Mmm. Tyd vir ‘n laaste koppie geurige koffie voor slaaptyd.
* * *





