
Die binneland hier rondom Perth is mooi groen in die winter. Maar gedurende die somermaande verdor die gras en bossies kwyn weg in die wolklose dae se hitte. Die riviere droog op en die enigste teken van lewe in die landskap is die lower van die bloekombome. Hulle kry dit om een of ander rede reg om maande lank sonder reën klaar te kom en steeds hul groenigheid te behou.
Die eerste Westerse setlaars het redelik onlangs hier aangekom: Sowat 150 jaar gelede. Maar die land was toe reeds duisende jare lank bewoon deur Aboriginies. Ek het nou die dag ‘n kaart van Australië gesien met al die honderde verskillende stamme regoor die kontinent se gebiede daarop aangedui, elkeen met sy eie dialek en unieke gewoontes.
Ongeveer 140 km noord van Perth is daar ‘n Katolieke kloostergemeenskappie met die naam van New Norcia in die bosse. Dis in die middel 1800’s deur twee Spaanse monnike begin. In daardie dae het Perth nog minder as 5,000 inwoners gehad en die wêreld was woes en en leeg. Wat die twee monnike besiel het om juis hier in die middel van nêrens met ‘n klooster te begin, weet nugter alleen. Maar die plekkie staan vandag nog. Dit het oor baie jare gegroei tot ‘n kompleks van sowat sewentig geboue. Daar is ook goed versorgde vrugdeboorde, wingerde en ‘n suksesvolle skaapboerdery.

Daar was op ‘n stadium blykaar sowat tagtig monnike in die klooster. Vandag staan dit amper leeg. (Ek het gehoor daar bly nou minder as tien van hulle in die groot ou gebou.) Die oudste monnik is onlangs op die rype ouderdom van 96 oorlede. Hy het op 18 jarige ouderdom vanaf Spanje hier aangekom en het daarna sy hele lewe in hierdie afgeleë plek in eensaamheid deurgebring.
Die statige ou geboue het almal ‘n Spaanse voorkoms en vertoon heel vreemd in die bosse.
Die gemeenskap is oor die jare met baie harde werk en toewyding opgebou. Alhoewel al die geboue steeds goed in stand gehou word, het baie van hulle nou in onbruik verval. Daar was vroeër jare byvoorbeeld drie kosskole op die terrein. Alles staan nog net so hier. Die meubels is nog in die klaskamers en die hoof se lessenaar en kaste staan nog in sy kantoor, ten spyte daarvan dat die skole reeds 18 jaar gelede toegemaak het as gevolg van die algemene ontvolking van die platteland in hierdie omgewing.

Daar is baie interessante dinge om hier te sien: Daar is drie of vier mooi kerkies onder die bome. Daar is die monnike se kloostergebou waarin hulle vandag nog woon, met sy wye stoepe en sinktenks om reënwater van die dak af op te vang. Daar is die mooi biblioteek met sy antieke boeke en ook ‘n oulike musem met baie inligting oor die plek se geskiedenis.

Dis hier in die museum waar die plek se uniekheid by mens insink: Reg langs uitstallings van die monnike se ou gereedskap en toerusting, word daar ook dinge vertoon van die Aboriginiegemeenskap wat hier rond gebly het: Lang, slanke spiese met skerpgemaakte klippunte. Byle waarvan die kliplemme met groot vaardigheid met rieme en boomgom aan die stele vasgeheg is. Toue van boombas gevleg. Stokke waarmee vuur gemaak is.

Dit het my getref hoe wyd uiteenlopend die kulture was wat mekaar destyds hier ontmoet het. Aan die een kant was daar die Spaanse katolieke kerk met al sy gebruike en tierlantyntjies. Aan die ander kant was daar sowat 1,000 plaaslike inboorlinge wat vir alle praktiese doeleindes nog in die steentydperk geleef het: Sonder die gebruik van metaal, sonder permanente huisvesting, sonder enige vorm van boerdery, sonder ‘n geskrewe taal.
In die museum is daar heelwat foto’s en stories oor die ou dae: Hoe die inboorlinge aangemoedig is om vaardighede aan te leer en te begin boer op hulle eie land. Hoe hulle geleer lees en skryf het in die plaaslike skool. Iewers in ‘n hoekie is daar ‘n kas vol koperblaasinstrumente. Die Aboriginie-kerkorkes was blykbaar destyds hoog aangeprys vir hulle vaardighede.

Ek het na my besoek bietjie meer gaan oplees oor New Norcia se geskiedenis en op ‘n interessante naam afgekom: Florence Nightingale van Anglo-Boereoorlog faam. Sy was destyds ook geinteresseerd in die snelle transformasieproses wat die plaaslike Aboriginies destyds ondergaan het in hulle kontak met die Spaanse monnike en die Katolieke kerk. Ek gaan my nie hier uitspreek oor haar bevindinge en standpunte nie. Gaan lees maar self daaroor op as julle so voel.
Ek het ook op ‘n stukkie hartseer geskiedenis afgekom: Op ‘n stadium, in die klooster se beginjare, het hulle baie swaar gekry en geld was skraps. Die hoofmonnik het toe besluit om ‘n paar Aboriginiekinders saam met hom te neem Europa toe. Die plan was dat hulle dan daar verder sou skoolgaan, tussen ander Europese kinders, om te bewys hoe suksesvol die opheffing van die plaaslike gemeenskap by New Norcia was. ‘n Handvol kinders tussen die ouderdom van 8 en 15 jaar is toe vanaf New Norcia per skip na Europa. Geskiedskrywers is dit eens dat die doel van hierdie oefening slegs was om weldoeners se belangstelling in New Norcia te prikkel en om geld in te samel. Hierdie kinders het toe nog nie eers so ver as Perth gereis nie, of die see gesien nie. Almal van die hulle, behalwe een seun, sou gedurende die volgende jaar of twee in die vreemde sterf. Net een van die seuns het die reis en sy kort verblyf in Europa oorleef. Hy het daar redelik goed op skool gevaar maar het na ‘n ruk ook erg siek geword en is toe terug gestuur huistoe. Hy is kort na sy aankoms by New Norcia oorlede.
Intussen staan die hele ou New Norcia gemeenskap nog soos altyd, sonder dat daar deesdae veel verander. Die bakkery is wyd bekend vir sy heerlike vars brood wat daagliks gebak word. Besoekers is welkom om te kom luister hoe die handjievol oorblywende monnike van vroegdag af in die kerkie met sy hoë plafon sing en gebede opsê. Buite raak dit in die middae versengend warm. Jy hoor net die wind se suisende lied deur die bloekoms en die kerkklok wat gerusstellend, op elke halfuur, sy deuntjie oor die vlaktes stuur.

* * *
Onlangse kommentaar